Central SA
Dapper stappers van speenoud tot stokoud stap vir droogtehulp─── MORNÉ VAN ROOYEN 17:10 Wed, 19 Apr 2023
Lidmate van die NG Gemeente Upington-Blydeville het Sondagoggend (16/4) ná ’n kort erediens (weens beurtkrag) ’n RSG Red ’n Plaas-Camino in die kleine gehou deur ’n honderdste van die 166 km om die kerkterrein te stap.
“Ons noem dit die Stoor-tot-stoor-stap vanaf die stoor (ou motorhuis) op die kerkterrein, reg rondom die kerk en om die terrein vir die 1,66 km,” vertel ds. Kobus van Zyl.
Meer as 60 lidmate van die NG Gemeente Upington Blydeville het Sondag (16/4) ná kerk 'n Camino in die kleine gestap en R3 200 vir droogtehulp aan Noord-Kaapse plase ingesamel.
Die Red ’n Plaas-projek is die geesteskind van Caritas, die welsynsbeen van die NG Kerk in Noord-Kaapland. Vanjaar het RSG besluit om hande te vat en die voortou te neem om ’n 166km lange staptog van Williston tot by Verneukpan te reël om so geld in te samel vir hierdie projek deur mense wat die meer as honderd stappers per kilometer borg. Dié staptog duur tot Saterdag (22/4).
“Ongelukkig kan almal nie saamstap nie; daarom het Caritas ’n uitdaging gestuur aan gemeentes vir ’n virtuele stap om hul kerkgebou van 1,66 km,” sê Van Zyl. “Ek en die skriba het die geleentheid aangegryp en die gemeente het onmiddellik ingekoop in hierdie projek.”
Ds. Van Zyl vertel Upington-Blydeville is ’n dorpsgemeente, maar daar’s ’n groot ouetehuis en aftreeoord asook ’n groot skoolkoshuis van Hoërskool Duineveld.
“So hierdie dorpsgemeente het nie baie boere nie, maar baie van die ou mense in die ouetehuis se kinders boer of hulle het self geboer en baie van die kinders in die koshuis se ouers boer nog steeds in hierdie gebiede wat ook geweldig geraak word deur die droogte. So hulle is uiters bewus daarvan.”
Hy sê die lidmate het “vreeslik positief gereageer, opgewonde. Hulle het donasies gemaak, ingeskryf … Die klein gelowigheid is maar altyd daar, en [ons] het altyd gedink: Ag, daar gaan seker net vyf stappers wees, maar ons het geëindig met plus-minus 66 stappers.
Meer as honderd stappers het Williston op 14 April verlaat op die 166 km lange Red ‘n plaas-Camino na Verneukpan, waar hulle Saterdag (22/4) aan kom.
“Van hierdie stappers was die jongste drie jaar oud en die oudste was 84, tannie Annie le Roux. Sy het met haar loopraam om die kerk gestap vir bewustheid oor die droogte.”
Ds. Van Zyl sê hulle hele doel met die projek was om hoop te bring aan mense. “Al kan net een boer, of een gesin of een dier gehelp word deur hierdie geld wat ons ingesamel het, was die hele projek ’n groot sukses gewees.”
Hy hoop ander gemeentes landwyd sal soortgelyke staptogte reël en “so ook deel word van die projek om boere wat geweldig gebuk gaan onder die droogte nog steeds, wat swaarkry en geweldige laste het, ook so finansieel te help, maar emosioneel ook so kan bystaan”.