Central SA
Tweejarige oorleef val deur venster op eerste verdieping─── BAMBATHA GIKO 08:25 Thu, 16 Mar 2023

’n Bloemfonteinse ouma is innig dankbaar dat haar kleindogter ’n ernstige hoofbesering oorleef het.
Magda Meyburgh (61), ’n akademiese beampte by die Universiteit van die Vrystaat (UFS), vertel haar dogter Magda van Tonder (31) het haar Maandag in trane uit Randburg gebel nadat haar dogtertjie Leah, wat die Saterdag twee geword het, by ’n venster op die eerste verdieping van hul meenthuis uitgeval het.
“ ‘Mamma, ek het gedink Leah is amper dood,’ het my dogter gesê. So, dit was maar ’n skok in daardie stadium, want ’n mens weet nie wat om te sê nie.
“Ek sê toe maar net: 'My kind, ons het geleer ons kyk na die berge, waar ons hulp vandaan kom. Dit sal van die Here alleen kom, my kind, vasbyt. Ons sal vir julle bid.' ”
Sy kon niks anders doen as om haar dogter te vertroos nie, vertel Meyburgh. Vanweë haar verantwoordelikhede by die universiteit kon sy nie net alles los om na hulle te gaan nie.
Ma Magda van Tonder (links) met klein Leah en ouma Magda Meyburgh met Emma.
Met ’n bekommerde hart oor klein Leah – én dit boonop midde-in die Nehawu-stakings by hospitale landwyd – kon sy net in Bloemfontein vir haar kleinkind bid.
Volgens Leah se ma het die tweejarige ’n venstertjie oopgemaak in die kamer waarin sy en ousus Emma gewoonlik speel.
Leah (links) by ousus Emma.
“Die terrible ding is, ek het haar nie eens gesien val nie. Ek het haar net hoor val. Ek was nie in dieselfde vertrek as sy nie.”
Dis die eerste keer dat Leah die venster oopgemaak het. “Jy weet, dis ’n kwessie van as die venster toe is, kan sy hom nie oopkry nie; so dan is ons gerus en dan speel sy daar.”
Leah het kop eerste by die venster uitgetuimel, maar genadiglik eerste die rand van ’n trampolien op die grondvloer getref, wat haar val gestuit het, voor sy op die plaveisel geland het.
Van Tonder het ’n slag gehoor, gevolg deur Leah wat skree. Sy het vinnig kamer toe gehardloop en die bondeltjie deur die venster sien lê.
Ma Magda van Tonder se dogtertjies Leah (links) en Emma is ouma Magda se enigste kleindogters; sy het ook vyf kleinseuns.
Met haar beseerde dogtertjie in haar arms het sy kaalvoet straataf gehardloop na die Randburg Medicross, waar sy by ongevalle gewag het dat ’n dokter na hulle omsien. Medicross kon nie haar kind inneem nie omdat hulle nie die nodige toerusting daar het om Leah se brein te skandeer nie. Hulle kon net haar wonde skoonmaak en verbind.
Hulle is toe na Sandton MediClinic verwys, waar dokters breinskanderings en X-strale van haar nekkie kon doen. Volgens van Tonder is Leah se skedel met die val gekraak.
Hulle moes vier uur wag op ’n ambulans om hulle na Baragwanath, ’n staatshospitaal, te neem, aangesien hulle nie aan ’n mediese skema behoort nie.
“Toe was dit eers ’n proses om uit te vind waarna toe ons kon gaan en of daar ’n neuroloog en ’n pediater is wat ons kon help. Daai proses was opsigself omtrent twee of drie ure.”
Van Tonder vertel haar kind het halfvyf Maandagmiddag geval, maar hulle het eers vieruur Dinsdagoggend by Baragwanath-hospitaal ingestap. Terwyl sy Dinsdagmiddag met OFM-nuus gesels het, was sy besig om haar dogter in te boek.
Sy het Woensdag aan OFM-nuus gesê dit gaan goed met haar dogtertjie, en dit lyk of sy ten volle sal herstel. Dit is net haar oog, aan die kant van die fraktuur, wat geswel was. Dokters het gesê dit is normaal aangesien dit net die bloed is wat afsak.
“Uiteindelik kon ons gistermiddag, soos in Psalm 146, sê: Prys die Heer met bly galme. En dan in die berymde weergawe – ek dink in die derde vers – staan daar: Salig hy wat in die lewe / sonder hulp en sonder raad / as hom alles wil begewe / vlug tot God, sy toeverlaat / en ook in die swartste nag / op die HEER alleen bly wag," sê Leah se ouma, wie se eerste man, ds. Kobus van Tonder, predikant was van die Gereformeerde Kerk Hennenman/Ventersburg tot hy in 1993 weens veelvuldige sklerose moes emeriteer en begin 2008 op 52 jaar daaraan oorlede is.
Sy het altesaam nege kleinkinders, van wie sewe seuns is, en sê dit alles kon soveel anders gewees het. “Dan dink jy: Is ek ’n bederfie van die Here? Daar is soveel kinders wat doodgaan, maar die Here het my bederf.
“Hy’t een van my twee kleindogters wat dood kon gewees het, laat bly lewe. Hy’t haar vir ons teruggegee.”