On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Man van Verkeerdevlei in hof oor wilde diere in hokke

───   07:21 Fri, 03 Mar 2023

Man van Verkeerdevlei in hof oor wilde diere in hokke  | News Article
Bakoorjakkalsies wat op 'n plaas in Verkeerdevlei gered is, word by die Johannesburg-natuurlewe- veeartsenykundige hospitaal versorg.

’n Man van Verkeerdevlei het in die landdroshof op Brandfort verskyn nadat ‘n luiperdwyfie in ‘n toegemaakte sleepwa, met slegs ‘n opening waardeur sy gevoer is, op sy plaas gevind is.

Die 55-jarige Hendrik Steyn van die plaas Dorasdeel is op borgtog van R1500 vrygelaat.

Lede van die Bloemfonteinse Dierebeskermingsvereniging (DBV), Virginia se DBV  en amptenare van die departement van kleinsakeontwikkeling, toerisme en omgewingsake (Destea) het die wildplaas op 31 Januarie besoek, berig News24.

Reinet Meyer, hoofinspekteur van die DBV, sê niks het hulle voorberei op wat hulle tydens hul besoek sou vind nie. ‘n Luiperd is onder meer al vyf maande lank in ‘n toegemaakte sleepwa aangehou, met slegs 'n opening waardeur sy gevoer is.

Die DBV het dadelik die luiperd gered, asook twee bakoorjakkalse en sewe dassies.

Die luiperd is na ‘n veeartsenykliniek in Pretoria vir behandeling geneem en sal mettertyd na ‘n natuurreservaat oorgeplaas word.

Steyn is op 22 Februarie in hegtenis geneem en het op 24 Februarie in die hof verskyn. 

‘n Span het Woensdag, 1 Maart 2023 na die plaas teruggekeer en 70 ander wilde diere, insluitend talle inheemse wilde katte en bakoorjakkalse wat in hokke aangehou is, gered.

Luiperd

“Dit was 'n dag van baie emosies – die toestande waarin daardie diere gedwing is om te leef, het ons harte gebreek. Ons kon hul toekoms verander en dit het die verskil gemaak.”

Meyer sê die DBV moes eers aansienlike wetlike en logistieke beplanning moes doen voordat die ander diere op die plaas behandel, hervestig en gehuisves kon word.

Wildboerdery Suid-Afrika (WRSA) sê in ‘n verklaring hy is diep ontsteld oor verslae van die beweerde wrede hantering van wilde diere, berig Landbou.com. Die WRSA het hom daartoe verbind om die Bloemfonteinse DBV in sy ondersoek te ondersteun.

Thea Smith, voorsitter van die Virginia en Bloemfontein DBV, het die span geloof vir hul werk in die operasie in 'n redding van hierdie omvang wat goed gekoördineer is. Sy het op Facebook die DBV van Virginia, die Old Chapel-veeartsenykliniek in Pretoria en Johannesburgse natuurlewe- veeartsenykundige hospitaal bedank vir hul hulp om die diere te hervestig.

OFM-nuus

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.