On Now
Weekdays 05:00 - 06:00
The Agri Hour Gerben
NEXT: 06:00 - 09:00 The Good Morning Breakfast with Shandor, Margaret and John
Listen Live Streams

Central SA

Kerk aanvaar tikster van Bloemfontein se loflied

───   21:50 Sat, 04 Feb 2023

Kerk aanvaar tikster van Bloemfontein se loflied | News Article

’n Vrou van Bloemfontein het die byna onmoontlike reggekry toe ’n lied wat sy geskryf het amptelik deur die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) as ’n Skrifberyming goedgekeur is.

Een van die redes waarom dié kerkverband, wat ook as die Dopperkerk bekendstaan, in 1859 gestig is, was juis uit protes teen die evangeliese gesange wat naas die berymde psalms in die Afrikaans-Hollandse kerke ingevoer is. Die afgelope meer as 160 jaar is dan ook net sowat honderd Skrifberymings goedgekeur, en net twee op Sinode 2023.

Berta Maritz (59), wat tuis as tikster vir ’n Bloemfonteinse prokureursfirma werk, se lied, “Aan U, Heer”, is ’n beryming van 1 Kron. 29:11–13. Dit word gesing op die Engelse kerklied “Regent Square” se melodie. Maar dit was so hittete of dit het nooit ’n Skrifberyming geword nie.

Sy vertel sy het ongeveer ’n week lank aan die lied gewerk: “Ek kon nou nie heeltyd pal daaraan werk nie, maar so tussendeur my ander werk, as ek kans gehad het en rustig was, dan het ek aangegaan daarmee.”

Weens ’n gesteelde skootrekenaar het dit egter sowat vier jaar geduur voor haar beryming opgeneem is in die Gereformeerde Kerke se liedereskat. “Die aanvanklike probleem was met my e-pos wat ek in daardie stadium op my skootrekenaar gebruik het. My skootrekenaar is gesteel, en toe het die e-posse wat ds. Jannes van Dyk (skriba van die Deputate Liturgiese Sake, subgroep Afrikaanse Liedere) vir my teruggestuur het, nie by my uitgekom nie.”

Nadat sy lank nie van hom gehoor het nie, het sy weer vir hom gevra hoe die goedkeuring vorder omdat sy al amper daarvan vergeet het. Hy het die e-posse weer vir haar gestuur. “Toe het dit nou vinniger gevorder.”

Sy vertel haar predikant in die Gereformeerde Kerk Bloemfontein-Suidheuwels, ds. Hans Grobler, het ook daarmee gehelp omdat hy ook deel is van die Deputate Liturgiese Sake. “Ek het dit vir hom op papier gegee en ook vir hom deurgestuur.”

Gevra hoe die lied ontstaan het, vertel sy: “Dit was met ds. Hendrik Stoltz, ons voormalige predikant. Ons het ’n Woensdagoggend-Bybelstudiegroep waarnatoe ek altyd gaan. Ons het Kronieke behandel, en dié Woensdag het hy toe die stuk gelees van 1 Kron. 29. En hy sê toe: Ai, hy wens iemand wil musiek by hierdie woorde plaas dat ’n mens dit kan sing, want dit is sulke pragtige woorde.

“Hy het my altyd die Koragiet genoem omdat ek die voorsang gelei het in daardie stadium.” (’n Koragiet is iemand in die Bybel uit die geslag van Korag, die agterkleinseun van Levi, waarvan lede as tempelsangers en poort- en drumpelwagters diens gedoen het.) “En hy kyk na my en hy sê: ‘Dalk sal die Koragiet dit kan doen.’ Ek sê: ‘Ek?! Nee, ek sal dit nie kan doen nie!’ Maar dit is waar die saadjie posgevat het.

“Toe ek die volgende dag ’n bietjie tyd het, toe het ek gesit en eers gebid. Dit het regtig baie, baie gebede gekos, en daarom is die ere net aan ons Hemelse Vader, want sonder Hom kon ek dit nie gedoen het nie.

“Toe het ek die musiek, die Bybelgedeelte gevat en ’n melodie in my kop gekry. Dan sing ek dit nou half soos dit in die Bybel staan, dan sien ek: Nee, dit gaan nie werk nie. En so het ek aangegaan tot ek op die ou einde die melodie gekry het wat ek toe gebruik het.

“Eintlik is dit te danke aan ds. Hendrik wat my gemotiveer het om dit te doen. En deur die Here se genade is ek baie dankbaar dat dit darem nou goedgekeur is, en dat dit in die Kerk kan gesing word.”

Maritz vertel die ander liedere wat sy al geskryf het, was meestal vir haar gemeente, soos die 50-jarige feeslied in 2015. “Ek het ook (soos met “Aan U, Heer”) ’n bekende melodie gevat en woorde daarvoor geskryf, maar dit was sommer vir die gemeente se gebruik. Dan het ek ook vir die pret vir ’n gemeentekonsert wat ons gehad het ’n liedjie geskryf vir die susters om te sing, maar dit was net vir die lekkerte. Ek het nog nie regtig iets so groots soos hierdie aangepak nie.”

Sy het nie ’n musikale agtergrond of opleiding nie, maar is baie lief vir sing en kom uit ’n musikale gesin. “My broer het baie goed gesing en was ook meer bekend onder die Gereformeerde mense. Maar dit is vir my net lekker om te sing. Ek is lief vir musiek, en dan werk ek ook in ons gemeente baie lekker saam met ons jong orrelis, Tiaan Herbst, aan Kersdiensprogramme en sulke goed, so dit is eintlik maar net ’n liefde vir musiek.”

Wat is ’n Skrifberyming?

Ds. Van Dyk sê by navraag dit is nodig om ’n lied soos Maritz s’n eers goed te keur voor gemeentes dit sing, want “in die GKSA het ons met mekaar ooreengekom om ons eenheid in leer, diens en tug uit te leef. Wat ons dus in die erediens sing, is dít wat ons onderling met mekaar ooreengekom het.”

Hy vertel die term “Skrifberyming” was aanvanklik presies wat die woord sê: ’n beryming van Skrifgedeeltes. “Die vroegste Skrifberymings was die lofsange van Maria, Sagaria en Simeon. Dan ook die beryming van die Wet. Baie van die gesange/liedere van die susterskerke (die NG Kerk en die Hervormde Kerk) is nie direk gebaseer op spesifieke teksgedeeltes nie; tog is daar ook gesange/liedere wat wel op spesifieke Skrifdele gebaseer is.”

Die GKSA het jare lank net 50 Skrifberymings gehad, maar dit het verdubbel tot amper honderd. “Dit sluit egter ook Skrifgetroue liedere uit die geledere van die GKSA in. In die onlangse verlede is artikel 69 van die Kerkorde van die GKSA sodanig gewysig dat Skrifgetroue liedere ook in eredienste gesing kan word. Dit is nie direkte berymings van ’n Skrifdeel nie, maar ’n lied wat sing van die groot openbaringslyne in die Bybel.”

Van Dyk sê van die voorleggings van liedere wat hulle vanjaar oorweeg het, dateer van voor 2018 af. “Soms word hele privaat bundels voorgelê – soos wat in hierdie termyn die geval was. In 2018 het die kerke egter ooreengekom dat liedere wat voorgelê word, gemotiveer word, en die deputate moet dan hierdie gemotiveerde liedere beoordeel.”

Hy sê: “Die beryming van sr. Berta Maritz is oor jare heen verfyn ten opsigte van letterkundige, musikologiese en teologiese aspekte. Daar is baie liedere buite die Psalms in die Ou en Nuwe Testament. Onder andere die Lied van Moses in Deuteronomium, die Lied ná die deurtog in Eksodus 15 en dan die danklied wat sr. Berta berym het

“Haar keuse van melodie (‘Regent Square’) met sy besondere lofkarakter en die loflike toonaard van die melodie ondersteun die teks baie goed. Unieke Hebreeuse begrippe is ook besonder raak berym.”

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.