On Now
Weekdays 05:00 - 06:00
The Agri Hour Oscar
NEXT: 06:00 - 09:00 The Good Morning Breakfast with James
Listen Live Streams

Agri Hour

Deel 1: Wees op die uitkyk vir skaapbrandsiekte

───   ELSABÉ RICHARD 05:30 Tue, 24 Aug 2021

Deel 1: Wees op die uitkyk vir skaapbrandsiekte | News Article
FOTO: DOCPLAYER.NET

Skaapbrandsiekte kom gewoonlik gedurende die koue maande voor.

Dr. Johan Cloete, tegniese veearts by MSD Dieregesondheid, sê hierdie siekte is hoogs aansteeklik en veral wolskape word die ergste geraak. 

OFM-nuus se Elsabé Richard het met hom gepraat…

Sien onderstaande PODCAST


Wat is skaapbrandsiekte?

“Skaapbrandsiekte is ‘n velinfeksie van skape, veroorsaak deur velparasiete. Die mikroskopiese klein myt kan nie met die oog gesien word nie. Dit is parasiete wat hoofsaaklik in die wintermaande – van die herfseisoen tot in die lente - op skape voorkom want hulle hou daarvan om in wol weg te kruip.”


Hoe word skaapbrandsiekte oorgedra en versprei?

“Die wyfies lê ‘n paar eiers per dag en hulle lê eiers op [die vel van die skaap]. Wanneer skape dan teen mekaar skuur of waar hulle teen drade krap of skuur - want hierdie skaapbrandsiekte veroorsaak ‘n brandende of jeuk sensasie - kan eiers in die wolweefsel gedeponeer word.

“As ander skape dan daar verby loop -  veral die wolskape – dan kom hulle in kontak met die wol of hulle lê teen ‘n ander skaap en [so versprei die eiertjies ook]. [Die eiers] vat so tussen 10 tot 14 dae om uit te broei.”


Wat is die simptome?

“Die eerste simptoom is skape wat aan hulle wol begin pluk. Jy kry sulke wol letsels waar skape aan die wol begin pluk want die [jeukerigheid] is irriterend. Later begin die letsels groter word, dan is daar groot areas [sonder] wol. Die skaapbrandsiekmyt irriteer die vel geweldig met sy mond en dan begin daar rowe vorm.

“Jy kan min wolverlies tot baie wolverlies hê waar ‘n skaap amper heeltemal kaal is.

“[Rowe kom gewoonlik] aan die kante van die skaap en bo op die rug voor - veral waar daar lang wol is, waar die myte wegkruip vir die son.”


Hoe word dit behandel?

“Eerstens moet 'n mens dit diagnoseer. Skaapbrandsiekte is gelukkig meestal, behalwe hier en daar waar daar weerstandige stamme is, vatbaar vir beide buitetoediening (kontakdoders) en sistemiese behandeling.

“Sistemiese behandeling is al die spuitbare [middels] - kortwerkende 1% tot die langerwerkende 3% - 3,5%. Dit word deur die bloed versprei en die skaapbrandsiekmyt suig dan die bloed wat met hierdie [middels] besmet is en dan vrek hulle van dit.

“Die kontakdoders is natuurlik waar dit met water gemeng word en dit word dan of in ‘n dip of met rugsakke, of met hoë drukspuite op die skape gespuit sodat die wol behoorlik nat word tot op die veloppervlakte. Daai kontak wat die vel met die gif maak, maak die myte dood.”


Hoe kan boere skaapbrandsiekte voorkom?

“Dit is baie belangrik dat as 'n mens skape sou inkoop, dan moet daai skape verkieslik eers behandel word met ‘n kontakdoder en/of ‘n inspuitbare [middel]. Dan moet dit weer herhaal word – veral die kortwerkende [inspuitmiddels]. Die langwerkende [inspuitmiddels] is gewoonlik vir 50 of meer dae effektief.

“Dan moet die skape in kwarantyn geplaas word sodat hulle net eers behandel word. As hulle  [kwarantyn] klaar is, ná sowat twee tot drie weke, dan kan hulle deel van die skaaptrop wees.

“[Skaapbrandsiekte] kan ook oorgedra word wanneer skape teen ‘n buurplaas se gemeenskaplike heining krap en skuur. As daar skaapbrandsiekte op ‘n naburige plaas is, dan moet 'n mens die skape wegtrek van daai kamp af waar daar moontlik kontak deur die draad kan plaasvind.

“So, die inkoop van diere is baie keer ‘n risiko.”


Waar is hierdie beheermiddels beskikbaar?

“Die produkte is beskikbaar by korporasies regoor die land, sowel as veeartsklinieke wat dit verhandel en MSD-produkte is daar met hulle bekende handelsmerke.”



OFM-nuus


@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.