Agri Hour
NK-boere hoop vir nog reën─── ELSABÉ RICHARD 05:30 Tue, 14 Dec 2021

Boere wie se plase in die droogtegeteisterde gebiede in die Noord-Kaap geleë is, hou steeds duim vas vir deurlopende opvolgreën.
Nicol Jansen, president van Agri Noord-Kaap, sê reën het die afgelope tyd wyd in die Noord-Kaap voorgekom, maar dat daar steeds plase is wat min tot geen reën ontvang het nie.
Sien onderstaande PODCAST
Jansen sê die Noord-Kaap het einde Oktober in gebiede soos Calvinia tot 80mm reën gehad. Dit, terwyl droë gebiede in die rigting van Pofadder tot 35mm reën gehad het.
Hy deel verder dat hy van mening is dat die droogte in die provinsie eers sal breek wanneer bogemiddelde reënval voorkom. “In hierdie stadium, as ons al die reën bymekaar tel, het hierdie streke nog nie 50% van die langtermyn gemiddelde reënval per jaar [ontvang nie],” sê Jansen.
LEES: Fotojoernalis emosioneel terwyl sy oor #droogte-boek praat
Dit beteken dat indien meer reën nie in hierdie gebiede sou voorkom nie, die droogte verseker nie gebreek sal wees nie, en die veld steeds nie ten volle sal kan herstel nie.
Teen 9 Desember 2021 is daar ‘n plaas in die Frazerberg-omgewing wat nog geen reën gehad het nie. So ook in die Calvinia en Louriesfontein-omgewings is daar ook plase wat steeds hoop op neerslae.
Intussen het OFM-nuus vroeër berig dat Johan van den Berg, ‘n onafhanklike landbouweerkundige, gesê het dat die kanse groot is dat ons vanjaar ‘n nat Kersfees gaan hê.
OFM-nuus