On Now
Weekends 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 Opstaan with Anny
Listen Live Streams

Agri Hour

NK-boere vol moed, dankbaar vir reën

───   ELSABÉ RICHARD 05:00 Tue, 16 Nov 2021

NK-boere vol moed, dankbaar vir reën | News Article
Foto: Save the Sheep (Facebook)

Hoewel sekere dele van die Noord-Kaap stortende reënval ervaar het, is daar ook dele, soos die Steinkopf-omgewing, wat net 4mm reën gemeet het.

Sybil Visagie, stigter van die droogtehulp-organisasie ‘Save the Sheep’, sê ten spyte hiervan bly boere steeds hoopvol. 

Sien onderstaande PODCAST

Sommige dele in die provinsie het goeie reënval gehad, ander dele het weer opvolgreën gekry, terwyl ander dele van die Noord-Kaap, soos die Namakwa-omgewing wat bietjie reën gekry het, se droogte ongelukkig nie gebreek is nie.

“Daar is niks in hierdie stadium wat ‘n boer meer positief maak as ‘n reënbui nie. So, selfs al het dit min gereën, het die boere ‘n moedskep-gevoel gekry en sien hulle weer kans om die bal in die lug te probeer hou tot die volgende bui reën kom.

“Die vooruitsigte vir reën lyk beter as verlede jaar. Ons het ‘n lekker koue winter gehad wat ‘n baie goeie teken is vir goeie reën in die somer. So, die boere het moed geskep. Nou wag ons en ons hoop en bid vir die volgende buitjie reën,” deel Visagie.

LEES: #Droogtehulp noodsaaklik om boere op plase te hou     

Visagie, wat saam met haar man tussen Sutherland en Calvinia boer, sê hulle ervaar self eerstehands die droogte. Dié omgewing staar nou al sy negende jaar van droogte in die gesig.

OFM-nuus het vroeër berig dat Visagie in November 2017 betrokke by droogtehulp geraak het om die publiek bewus te maak van die vernietigende droogte in Sutherland en die Karoo.

In ‘n voortdurende poging om boere in droogtegeteisterde gebiede van die Noord-Kaap op hulle plase te hou, gaan die Save the Sheep-organisasie nog volstoom voort met verskeie projekte.

Die projekte sluit in die bak en verkoop van koekies deur boervroue om ‘n inkomste te verdien; ‘n speelgoed-projek vir kinders vir Kersfees en ‘n veevoer-projek.

Intussen het Nicol Jansen, president van Agri Noord-Kaap, gesê wat die veld betref, groei die weiding stadig maar daar is tekens van plante wat begin groei. Hy sê daar is nog 'n lang herstelpad en dat baie opvolgreën nodig is sodat weidingskapasiteit in droë- en brandgeteisterde gebiede weer volledig kan herstel.

Enige persoon wat graag skenkings wil maak of meer wil uitvind oor Save the Sheep se projekte, kan Visagie op 071 256 6795 kontak, of besoek die organisasie se webtuiste of Facebook-blad.


 


OFM-nuus

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.