Agri Hour
#LandbouHoop: Koop ‘n ‘boks’ voer vir die boer van jou keuse─── ELSABÉ RICHARD 05:00 Fri, 10 Sep 2021

Die projek Boks Voer Vir 'n Boer is gestig met boere in die droogtegeteisterde gebiede van die Noord-Kaap in gedagte.
Elria Steinberg, stigter van hierdie aanlynprojek, sê dié provinsie lê na aan haar hart omdat sy self ‘n boorling van die Namakwaland-streek is.
Sien onderstaande PODCAST
Boks Voer Vir 'n Boer is ‘n aanlynkonsep wat almal in die land, sowel as oorsee, in staat stel om ‘n donasie te maak aan ‘n boer wat in die droogtegeteisterde Boesmanland-streek in die Noord-Kaap geleë is. Voornemende donateurs het vier virtuele bokse voer om van te kies.
LEES: Landbounuus-podcast: Groot verligting nadat drie provinsies as droogterampgebiede verklaar is
Hoe die aanlyn konsep werk
“Die donateur koop die boks voer van sy keuse vir die boer van sy keuse. Op die oomblik is daar 13 boere en as die boer die teikenbedrag ontvang het, word hy vervang met ‘n volgende boer…
“Die boer ontvang die geld in sy rekening en ry self na die naaste koöperasie toe en gaan koop die voer met jou inbetaling,” verduidelik Steinberg.
Besoek Boks Voer Vir 'n Boer se webtuiste.
- Kliek op ‘Catalog’ heel bo aan die webblad. Daar sal jy vier virtuele bokse voer-opsies kry om van te kies.
- Die eerste opsie is die ‘Boetie boks’ wat R700 kos. Hierdie opsie bevat drie 50kg sakke voer - 50kg lamkruit, 50kg skaapafrond en 50kg energie-lek.
- Die volgende boks is die “Pappa boks” wat R1 040 kos. Dié boks bevat vyf 50kg sakke voer wat die bogenoemde voer insluit, sowel as 50kg geelmielies en 40kg Meester 20.
- Die derde boks is die “Oupa boks” en dit kos R4 200. Die boer ontvang ‘n bakkievrag van 20 x 50kg sakke voer.
- Die laaste boks is die “Menere boks” wat ook as die Maatskappyboks bekend staan. Hierdie boks kos R8 400. Die boer wat hierdie boks ontvang, kry twee bakkies vragte van 40 sakkies voer.
Besoek OFM se Agri Aid-blad vir Boks Voer Vir 'n Boer en ander droogetehulp-organisasies se besonderhede.
OFM-nuus