On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Olebogeng
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Agri Hour

Biosekuriteitsmaatreëls weer in die kollig

───   ELSABÉ RICHARD 05:30 Thu, 02 Sep 2021

Biosekuriteitsmaatreëls weer in die kollig | News Article
FOTO: www.agupdate.com - National Pork Board

Biosekuriteit is uiters belangrik in die lewendehawebedryf.

Die suksesvolle implementering van maatreëls sal dieresiektes, soos onder meer bek-en-klouseer wat vanjaar in KwaZulu-Natal uitgebreek het, hokslaan. 

Sien onderstaande PODCAST

Francois Knowles, registrateur van die Landbouprodukte-agente Raad, oftewel APAC, sê weens ‘n uitbraak van bek-en-klouseer in KwaZulu-Natal in Mei vanjaar, het die minister van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, Thoko Didiza, hierdie gebiede onder kwarantyn geplaas en as beheerde gebiede verklaar.

Sy het ook onlangs ‘n ministeriële taakspan saamgestel oor biosekuriteit met spesiale klem op bek-en-klouseer, Afrika-varkpes en die hoogs aansteeklike voëlgriep. Didiza sê die doel van die taakspan is om meganismes te vind en aanbevelings te doen oor ‘n reeks sleutelbesluite.

Daarmee saam voeg Knowles by dat kritiese biosekuriteitsmaatreëls vir lewendehawe-agente, wat in November 2020 in die Staatskoerant gepubliseer is, amptelik op 1 Julie vanjaar in werking getree het.

Hierdie maatreëls het ten doel om onder meer te verseker dat albei die wild- en lewendehawebedrywe aan die Wêreld-organisasie vir Dieregesondheid (OIE) se kode voldoen om dieresiektes te verhoed.

LEES: Biosekuriteitsmaatreëls vir lewendehawe-agente noodsaaklik


Lewendehawe-agente moet aan die volgende voldoen:

Verpligte registrasie by APAC – dit sluit lewendehawe-agente in wat aanlyn en virtuele veilings aanbied.

Lewendehawe-agente moet aanvaarding en verantwoordelikheid van dieresiektewetgewing erken en afteken.

Daar moet twee keer per jaar ‘n onafhanklike eksterne oudit van die veilingsgeriewe en alle biosekuriteit-prosedures onderneem word. Die Suid-Afrikaanse vleisbedryfsmaatskappy, SAMIC, sal die rol vervul.

Elke veilingsperseel moet ‘n biosekuriteit-praktisyn aanstel wat by die Suid-Afrikaanse Veeartsenyraad (SAVC) geregistreer moet wees. Dié biosekuriteit-praktisyn is verantwoordelik vir die biosekuriteitsplan en moet ook toesien dat daar aan alle minimum-biosekuriteitsmaatreëls voldoen word vir alle diere van verskillende oorsprong wat vir opveiling bymekaar kom.

Vir meer inligting besoek APAK se webblad



OFM-nuus


@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.