Agri Hour
#Droogtehulp-organisasie op pad na NW ná veldbrande─── ELSABÉ RICHARD 05:00 Fri, 09 Jul 2021

Elf plase in die Fochville-omgewing buite Potchefstroom in Noordwes is onlangs deur veldbrande verwoes.
Chris van Beljon, stigter van Boere Droogtehulp SA NPC, sê nege van hierdie plase is totaal verwoes. Hy sê ‘n konvooi van ongeveer 20 bakkies en 20 trokke gaan hierdie naweek skenkings by boere in die genoemde omgewing oorhandig.
Sien onderstaande PODCAST
Die organisasie het skenkings van oral ontvang en dit sluit nie net voer vir vee in nie, maar ook, onder meer, kos vir die boere en hulle gesinne sowel as klere en komberse.
Van Beljon deel dat die sosiale media inhoudskepper, Jaco van Dyk van Woes TV - ‘n aanlynprogram op Facebook en YouTube, sowel as die bekende sanger en liedjieskrywer, Appel, die verwoestende veldbrande onder mense se aandag gebring het.
Saam het dié groep die bal aan die rol gekry om skenkings vir boere in te win.
Die span, insluitend Appel, gaan Vrydag 9 Julie vertrek om skenkings te oorhandig. Van Beljon sê hy is baie dankbaar vir elkeen wat ‘n skenking gemaak het. Hy beskou hierdie mense as helde.
Verder beoog die organisasie om teen einde Augustus vanjaar weer skenkings vir boere in nood in die Noord-Kaap te oorhandig. Van Beljon sê daar is nog talle boere in dié provinsie wat onder erge droogtetoestande gebuk gaan, wat hoop op goeie neerslae wat verligting sal bring. Hy het weer eens benadruk dat daar steeds ‘n wanpersepsie onder die publiek ontstaan dat die droogte oral gebreek is, maar hy sê dis egter nie die geval nie.
Vir meer inligting oor hoe om by droogtehulpprojekte betrokke te raak of skenkings te doen besoek Boere Droogtehulp se Facebook-blad of die webtuiste: www.boeredroogtehulpsa.org. Om direk kontak met Van Biljon te maak, stuur 'n WhatsApp-boodskap na 082-961-6620.
OFM-nuus