On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Agri Hour

Wees op die uitkyk vir insek-oordraagbare siektes

───   ELSABÉ RICHARD 05:00 Wed, 31 Mar 2021

Wees op die uitkyk vir insek-oordraagbare siektes | News Article
FOTO: Graan SA (GSA)

Boere moet voorkomend teen verskeie insek-oordraagbare siektes optree.

Dr. Faffa Malan, ‘n veearts en besturende direkteur van die Herkouer-veterinêre Vereniging van Suid-Afrika, oftewel RuVASA, het met OFM-nuus gesels oor hierdie siektes….

Sien onderstaande PODCAST

Malan sê insekte sluit in muggies, muskiete sowel as vlieë.

Wanneer daar na insek-oordraagde siektes by beeste gekyk word, is knopvelsiekte eerste op Malan se lys. Hy verduidelik dat hierdie siekte ook gedurende die winter deur boere aangemeld word. Hy voeg by dat bosluise, alhoewel dit nie ‘n insek is nie, ook knopvelsiekte kan oordra. Simptome hiervan is knoppe en sere op die dier se vel terwyl ander diere swelling in hulle pote ervaar. Ander simptome sluit in onvrugbaarheid. Dié siekte kan ook deur die dier se melk oorgedra word.

Nog ‘n siekte is drie-dae-stywesiekte, wat veroorsaak dat diere, wanneer hulle gaan lê, nie kan opstaan nie. Ander diere wat hierdie siekte opdoen, lyk asof hulle senuweesiekte opgedoen het omdat die siekte veroorsaak dat hulle nie reg kan loop nie. Malan sê daar is selfs diere wat dan vrek.

As daar na insek-oordraagbare siektes by skape gekyk word, sê Malan bloutong word deur muggies oorgedra. Simptome hiervan sluit in sere in die skaap se bek sowel as seer spiere wat daartoe kan ly dat die skaap se nek skeef trek.

Slenkdalkoors raak skape én beeste. Een van die simptome in diere is dat dragtige diere aborsies ervaar. Malan raai boere aan om hulle veeartse te kontak wat dan met beskermende toerusting na die plaas toe kom en monsters neem sodat toetse gedoen kan word. Die siekte is ‘n soönose, wat beteken dat mense dit ook kan kry deur aan siek diere te raak. Malan sê mense wat besmet is met die virus toon griepagtige simptome en dat die virus ook tot blindheid en sterftes kan lei.

‘n Ander siekte wat in die Vrystaat voorkom wat soortgelyke simptome soos slenkdalkoors het, is die Wesselsbron-siekte. Dit is ook so aansteeklik soos slenkdalkoors.

Malan moedig boere aan om simptome by hulle plaaslike veearste aan te meld sowel as om diere vroegtydig in te ent en kudde gereeld te ondersoek.

Vir meer inligting oor hierdie en ander dieresiektes besoek www.ruvasa.co.za.



OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.