Agri Hour
Wat sê die landbou-ekonoom, Kobus Laubscher?─── 05:00 Thu, 03 Dec 2020
Soos oudergewoonte op ‘n Donderdag, praat OFM-nuus se Elsabé Richard met die landbou-ekonoom, dr. Kobus Laubscher.
Hier is Laubscher…
Sien onderstaande PODCAST
Inflasie-vooruitsigte is vandeesweek se fokus in Laubscher se weeklikse insetsel.
“Kosinflasie was in Oktober 2020 op dieselfde vlak as in Augustus 2017 en verbruikers kan tereg wonder of die laer kosinflasie verby is. Dit is veral belangrik met die oog op die komende feesgety. Hooflyn-inflasie het ook effens verhoog in Oktober, maar is op 3.3% ruim onder die Reserwebank se teikens. Vir die verbruiker het dié syfers egter maar min waarde, want dit verskil ooglopend van wat hulle aan hul beursie voel. Die Nasionale Bemarkingsraad verwerk werklike pryse vir ‘n mandjie van 28 items en daardie mandjie het vir die jaar tot September 2020 met meer as 10% toegeneem.
“Inflasie het tegnies, as oorsprong, twee basiese dryfkragte. Enersyds oefen vraag veranderingsdruk uit, maar die aanbodkant is ewe belangrik. So sal pryse styg as die aanbod onvoldoende is, maar pryse kan ook daal indien verbruik en gevolglik vraag, afneem. As 'n mens die waardeketting van landbouprodukte baie simplisties ontleed met die plaashekprys as vertrekpunt, het waardetoevoeging en/of transformasie van die basiese produk, 'n koste-verhogende impak. Verbruikers koop immers brood en nie koring nie. Veranderings aan die koste van toegevoegde waarde het ‘n impak op die plaashekprys en die prys wat verbruikers betaal.
“Die goeie nuus is dat Suid-Afrika die grootste koringoes die afgelope twee dekades verwag, met die verwagte kanola- en gars-oes die grootste in die geskiedenis. Alhoewel Suid-Afrika ‘n netto invoerder is van koring en as sulks afhanklik is van globale mark-omstandighede, is die vooruitsigte positief in terme van voorsiening en dalk ook pryse. Pryse is natuurlik wisselkoers afhanklik, maar daar behoort genoeg te wees. Verdere goeie nuus is dat somergraan-verwagtinge ook baie belowend, gegewe voorplant-omstandighede en hoe die plantproses verloop. Die vooruitsigte van voldoende somergraan beteken vervolgens ook baie vir diegene wat gedurende grendeltyd noodwendig moes afsien van brood om meer mieliemeel te gebruik. Dit het ‘n impak op die mieliemark, aangesien geel mielies grootliks sal moet instaan vir die vraag na mielies vir diere voeding.
“Minder wit mielies sal so aanwending vind, want dit wat nie vir menslike verbruik aangewend word nie, word dierekos. Binnelandse pryse van mielies behoort ook gunstiger te verloop vir die deel van die landbou wat mielies as inset gebruik. Die pryse van soja het egter die hoogte ingeskiet omdat dit gekoppel bly aan internasionale pryse. In hierdie verband is daar weer ander drywers, soos die aggressiewe herstel van China se varkboerderye. Met positiewe vooruitsigte van verbeterde handelsbetrekkings met China onder die Biden-administrasie, kan die vraag na grane wat die miljoene Chinese varke moet voed, interessant laat verander.
“Terug op eie bodem beteken laer inflasie nie dat die verbruiker skielik meer gaan bestee nie. Trouens met hoë inflasievlakke is daar ‘n ander soort druk, naamlik om te koop wat jy nodig het om die impak van prysstygings te keer. In daardie proses word baie onnodige aankope ook gedoen. Een van die baie gevolge van die pandemie is die prysgevoeligheid van verbruikers. Laer inflasie sal aankope uitstel en met besteebare inkomste onder geweldige druk, gaan minder aangekoop word. Swart Vrydag se aankope was traag en oor tyd versprei. Kortom, die verbruiker sal twee keer dink voordat gekoop word en vir Kersfees 2020 sal aankooppatrone in lyn wees met hoe baie hulself verskans teen moontlike besmetting – waag geen kanse. Baie verbruikers sal as gevolg van stygende werkloosheid dalk nie eers kan koop wat hulle wil hê nie, maar wat hulle kan bekostig.
“Inmiddels is daar kommer oor die impak van sogenaamde institusionele inflasie soos die koste van elektrisiteit, vervoer, ens. Dié uitgawes vat ‘n groter wordende hap uit beursies wat reeds plat is. Dit is veral die arm gedeelte van die bevolking wat swaarkry. Werkloosheid is die grootste hier en in baie gevalle is die aantal broodwinners per gesin of sonder werk, of enkeles het inkomste. Die jongste statistieke dui daarop dat die deel van die bevolking wat in hierdie kategorie val, groter word met min vooruitsigte van verbetering in die afsienbare toekoms.
“Die eenvoudige raad is om versigtig te koop, spesiale aanbiedinge net te oorweeg as dit werklik nodig is en om die rand te rek. So ‘n benadering sal bepaald ook prysstygings ontmoedig,” sluit Laubscher af.
OFM-nuus