On Now
Weekends 09:00 - 12:00
The Central SA Top 30 Laurika
NEXT: 12:00 - 16:00 Saterdag Siësta with Nikki
Listen Live Streams

Agri Hour

Pofadder-moord: Nog 'n boer verlore vir landbou

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 07:34 Mon, 12 Oct 2020

Pofadder-moord: Nog 'n boer verlore vir landbou | News Article
FOTO: Algoa FM

Die moord op 'n deeltydse boer en 'n plaaslike hoteleienaar van Pofadder in die Noord-Kaap, het opnuut skokgolwe deur die plaaslike landbougemeenskap gestuur.


Dit kom nadat Leon Brits se liggaam Woensdag by sy huis op dié dorp gevind is. Hy is vermoedelik verwurg en met 'n skerp voorwerp aangeval. Hy is ook na bewering met 'n hondeketting verwurg, waarna sy liggaam in sy swembad gegooi is. Sy vrou, Suretha, het op sy liggaam afgekom.  Die voorsitter van Agri Noord-Kaap se komitee vir landelike veiligheid en veediefstal, Joe Scholtz, sê dit is met groot hartseer dat dié organisasie van dié moord verneem het. Dit het plaasgevind 'n dag nadat honderde mense opgeruk het na Senekal om onder meer hul stem dik te maak teen plaasmoorde. Honderde Mense, wat boere insluit, het na Senekal gestroom om Brendin Horner, 'n plaasbestuurder van Paul Roux, se naasbestaandes te ondersteun nadat hy op 'n plaas in dié gebied vermoor is. Twee verdagtes het verlede Dinsdag weens Horner se moord in die plaaslike landdroshof verskyn. Scholtz sê Brits se moord is 'n groot terugslag vir landbou in geheel.  OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met Scholtz, gepraat...


Sien onderstaande PODCAST


Hy meen moorde op mense en spesifiek boere, al was Brits 'n deeltydse boer, is iets waaroor boere worstel oor die land heen. Daar is 'n toename in moorde, en die onveilige situasie in die land asook die  gewelddadigheid van dié moorde word ten sterkste veroordeel. "Dit is groot hartseer om 'n positiewe boer te verloor." Hy verwys na Brits en om die situasie te vererger, word Suretha en die egpaar se kinders nou agtergelaat. Scholtz sê dit is onaangenaam dat lede van die land se landbougemeenskap elke keer die nuus moet haal wanneer hulle vermoor is. Voorvalle van dié aard en die trauma wat daarmee saamgaan in die Noord-Kaap, sowel as in die res van Suid-Afrika, is onaanvaarbaar. 

Scholtz sê volgens sy inligting is Brits in sy huis in Pofadder oorval en met 'n hondeketting verwurg en toe is sy liggaam in sy swembad gegooi.  

Dit is harseer dat 'n boer wat kos geproduseer het vir die land, 'n sakeman wat werk geskep het aan die plaaslike gemeenskap en ook 'n diens gelewer het aan sy gemeenskap, weggeruk is. Dit is hartseer dat iemand wat 'n bydrae lewer tot die ekonomiese groei van die provinsie en die land in geheel  wreed vermoor word.

Scholtz loof daarmee saam die plaaslike polisie vir hul vinnige optrede nadat dié moord aangemeld is. Dié organisasie doen opnuut 'n ernstige beroep op die polisie om alles in samewerking met georganiseerde landbou in die stryd te werp om plase en landelike gemeenskappe te beveilig. Scholtz vra ook dat landelike gemeenskappe meer paraat moet wees, veral met die toename in geweldsmisdaad wat nou oor die land heen voorkom.

Intussen berig Netwerk24  'n roudiens is Sondag vir Brits by Marchand op die oewer van die Oranjerivier gehou. Dié diens is deur sowat 500 mense bygewoon. Sover bekend is nog niemand weens die moord op Brits in hegtenis geneem nie. Intussen beplan die gemeenskap van Potchefstroom om die familie van Sias Willemse, 'n bekende in sportkringe in dié stad, en 'n deeltydse boer, Dinsdag te ondersteun. Dit is wanneer twee mans en 'n vrou na verwagting in die plaaslike landdroshof sal verskyn om aansoek om borgtog te doen. Mense kom om 08:00 by die Hervormde Kerk in Wolmaransstraat byeen vir skriflesing en gebed, waarna hulle dan na die hof sal beweeg. Ná afloop van die hofverigtinge sal 'n familielid terugvoer gee. OFM-nuus sal meer inligting oor die byeenkoms deur die loop van die dag bekendmaak. Willemse is op 22 September in sy huis in dié stad vermoor. Hy het 'n nekskietwond en dasse om sy nek gehad. Een van die verdagtes was 'n voormalige werknemer van Willemse.


OFM-nuus


Podcasts

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.