On Now
Weekends 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 Opstaan with Anny
Listen Live Streams

Agri Hour

Tree voorkomend op teen insek-oordraagbare siektes

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 05:30 Fri, 28 Aug 2020

Tree voorkomend op teen insek-oordraagbare siektes | News Article
FOTO: Graan SA (GSA)

Hierdie tyd van die jaar kom daar min veesiektes voor, maar dit is steeds belangrik dat boere voorkomend optree.


Dit is volgens die direkteur van Veearts Netwerk, dr. Danie Odendaal, wat sê die probleem is met insek-oorgedraagde siektes wat in die lente-, somer- en herfstydperk voorkom. Die situasie met betrekking tot siektes wat deur insekte en ook bosluise oorgedra word, verander vinnig sodra dit begin reën. Hy sê daar moet ook in ag geneem word dat die meeste siektes wat deur insekte oorgedra is, virussiektes is waarvoor daar geen doeltreffende behandeling is nie. OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met Odendaal gepraat oor voorkomingsmaatreëls en die belang van inentings teen dié siektes in beeskuddes...


Sien onderstaande PODCAST


Hy sê daar is nie behandelings wat hoogs doeltreffend is soos atntibiotika vir dieresiektes wat deur insekte oorgedra word nie. Antibiotika werk nie teen virrusse nie, maar slegs teen bakterieë. Die enigste wyse vir die voorkoming van virrussiektes spesifiek in vee, is inentings, want insekte kan nie beheer word nie. Die belangrikste siektes waarna gelet moet word in dié verband, is knopvelsiekte.  Dit kom elke jaar voor, veral in kuddes wat nie daarteen ingeënt is nie. Odendaal sê boere is egter baie bewus daarvan om hul beeste in te ent voor die begin van die reënseisoen. 

Drie-dae-stywesiekte onder beeskuddes was 'n probleem in sekere provinsies verlede jaar. Hy sê normaalweg is dit 'n siekte wat baie keer nie in provinsies soos die Vrystaat gesien word nie, veral  op die vlak wat dit verlede jaar in dié provinsie voorgekom het.  

Odendaal sê in Frankfort was daar gevalle waar diere met dié siekte nie slegs gaan lê het nie,  maar dié beeste het ook long-emfiseem opgedoen en het gevrek.  Die groot krisis met dié siekte is bulle wat dit opdoen en onvrugbaar word, omdat dié siekte hul semen weens koors aantas. Odendaal raai boere aan om met hul veeartse te praat oor drie-dae-stywesiekte en daarop te let, want as dit een jaar voorgekom het, is daar 'n groot sirkulasie van die virus in die komende jaar en nog meer gevalle kan dan voorkom, veral in die Vrystaat. Daar is egter 'n nuwe geregistreerde entstof beskikbaar sienende dat Onderstepoort se entstof uit voorraad is. Bulle moet twee keer ingeënt word, asook verse, sê hy.


Slenkdalkoors

Odendaal sê daar word vermoed dat daar vanjaar nie 'n moontlike uitbreking van slenkdalkoors kan voorkom nie, maar boere moet steeds voorkomend optree.  Gesondheidsprogramme wat hy op plase volg,behels onder meer dat vervangingsverse ingeënt word om te verhoed dat 'n kudde ontwikkel,  wat nie totaal vatbaar is nie. Slenkdalkoors kom nie elke jaar voor nie met lang interval-siklusse. Die laaste uitbreking van dié siekte was in 2010 gewees.

Daar moet beplan word vir die voorkoming van insekoorgedraagde siektes.

Siektes veroorsaak deur bosluise, soos rooiwater en meer spesifiek Asiatiese rooiwater, kom nou meer voor in provinsies soos die Vrystaat en boere moet baie bewus daarvan wees en gereeld met hul veeartse skakel, sê Odendaal.


OFM-nuus




Podcasts

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.