On Now
Weekdays 23:00 - 23:59
Overnight Oscar
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

Human Interest

Afrikaanse blokkiesraaisels nou op internet

───   16:02 Thu, 15 Aug 2013

As jy versot is op jou daaglikse kwota blokkiesraaiselstimulasie, maar moeg gesukkel is met penne sonder ink en stomppunt-potlode, is daar goeie nuus. ‘n Wye verskeidenheid Afrikaanse blokkiesraaisels is nou vir die heel eerste keer in ‘n interaktiewe, digitale formaat op die internet beskikbaar.

Anina Roux, stigter van XWord, Suid-Afrika se grootste verskaffer van blokraaisels en woordspeletjies, sê dat die maatskappy langer as ‘n jaar gewerk het aan die ontwikkeling van hul nuwe webwerf waar hierdie digitale raaisels nou beskikbaar is. “Dit was nogal ‘n uitdaging,” vertel Anina. “Ons het toenemend besef hoe belangrik dit is dat XWord se raaisels op verskillende platforms, en veral ook tablette soos die iPad én Galaxy, moet kan oopmaak.”

Die internet skep ‘n magdom nuwe geleenthede vir mense wat lief is vir blokkiesraaisels, meen Anina. “Ons is veral opgewonde oor die kans om nou ook spesifiek Afrikaanse raaisels beskikbaar te stel vir Suid-Afrikaners in die buiteland, mense wat nie maklike toegang tot die gedrukte blokkiesraaisels in tydskrifte en koerante het nie.”

Die raaisels wat XWord se span oor die jare opgestel het, kan nou met groot gemak interaktief op enige rekenaar of tablet voltooi word, òf, indien die invuller dit so verkies, steeds in gewone papierformaat uitgedruk word. Verskeie tegniese hulpmiddels maak die invul van raaisels op die internet ‘n totaal nuwe ervaring. Soos die stophorlosie wat die spoedvrate aanmoedig om hulle beste tye op te stel. Daar is ook fasiliteite wat die moedelose invuller help met ‘n moeilike letter of woord.

Dit is nie heeltemal toevallig dat die 100ste herdenking vanjaar van die eerste gepubliseerde blokkiesraaisel in die wêreld saamval met die loodsing van XWord se Afrikaanse digitale raaisels nie. (Die joernalis, Arthur Wynne, word as die uitvinder van die gewilde blokkiesraaisel soos ons dit vandag ken, beskou. Sy eerste raaisel is op 21 Desember 1913 in ‘n Sondagkoerant, die New York World, gepubliseer.)

“Ons was bewus van blokkiesraaisels se ‘Eeufeesviering’ hierdie jaar,” vertel Anina, “en ons het maar net duim vasgehou dat ons nuwe digitale raaisels betyds gereed sou wees vir die groot verjaarsdag.”

Blokkiesraai-entoesiaste kan toegang tot hierdie Afrikaanse interaktiewe raaisels kry op http://www.xword.co.za/. Sluit gerus ook by XWord aan op Facebook en Twitter, waar nuus en inligting oor die wonderlike wêreld van woorde en taal en raaisels gedeel en gereelde kompetisies aangebied word.

Uitgereik deur XWord

Navrae en meer inligting :
Anina Roux (Johannesburg) xword@xword.co.za +27 (0)11 477 4067
Albe Grobbelaar (Bloemfontein) albe@xword.co.za

More from Human Interest

You May be Interested in

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.