Agri Hour
Groot hoera vir plaaswagte wat weer pligte kan hervat - #AgriSA─── CHRISTAL-LIZE MULLER 05:00 Tue, 09 Jun 2020
Plaaswagte gaan uiteindelik voort met hul dienslewering ten opsigte van die patrollering van gebiede, ná n lang opdraande stryd met die regering om dit in die Covid-19-inperkingsregulasies toe te laat.
Die patrollering van gebiede deur plaas- en buurtwagte is tydens die aanvang van die nasionale staat van inperking verbied. Die polisie het egter verlede Vrydag 'n direktief uitgereik waarin dit nou in vlak 3 van die nasionale Covid-19-inperkingsregulasies toegelaat word. Tommie Esterhuyse, voorsitter van landelike veiligheid by Agri SA se Sentrum van Uitnemendheid, sê daar is groot dankbaarheid daarvoor en plaaswagte sal onmiddellik voortgaan met hul normale pligte in dié verband. OFM-nuus se Christal-Lize Muller het met Esterhuyse gepraat...
Sien onderstaande PODCAST
Hy sê die polisie het 'n direktief aan alle stasiebevelvoerders, kommisarisse in distrikte en op provinisale vlak uitgereik waar plaaswagte deel vorm van die gemeenskapspolisiëringsforums. Dit nadat Agri SA en ander organisasies in die bedryf, asook politieke partye, sedert die inperkingsmaatreëls druk op die regering geplaas het om plaaswagte in landelike gebiede toe te laat om gebiede te patroleer. Agri SA het die minister van samewerkende regering, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, die minister van polisie, Bheki Cele, asook Thoko Didiza, die minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling gereeld oor dié kwessie aangespreek. Die departement van polisie het later ag daarop geslaan. Hy sê daar was die afgelope twee weke redelik voorvalle op plase en kleinhoewes gewees. Die patrollering van gebiede is toé nog nie toegelaat nie. en daar was verwarring oor die protokol in dié verband.
Dr. Rudolph Botha van Tulbagh se lyk is verlede Maandagaand by 'n grondpad gevind. Hy het na bewering kleiduiwe geskiet. Esterhuyse sê daar was 'n voorval in Graaff Reinett, asook die aanval op Schalk en Lana Coetzee van Reivilo, die afgelope naweek. 'n Voorval in Limpopo die afgelope naweek moet nog bevestig word.
Esterhuyse doen 'n beroep op boere om sover moontlik nie hul paraatheid te verslap nie. Agri SA is bewus van toenemende armoede, en ander faktore soos werkloosheid wat 'n groot bydrae lewer tot 'n toename in misdaad. Hy sê dit is nou juis die tyd dat boere sterk moet staan. Dit is nou in graanproduserende streke strooptyd en met plaaswerkers wat hul aandag daaraan skenk, moet boere seker maak hul vee word gereeld getel. Enige vreemde of verdagte situasie moet by die polisie of lede se onderskeie distrikveiligheidskoördineerders aangemeld word.
OFM-nuus