On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

World News

Perdevleis-skandaal: Dieremishandeling ondersoek

───   12:46 Thu, 21 Feb 2013

Nuwe bewerings oor die mishandeling van perde waarmee in die Amerikas geboer word, het aan die lig gekom ná die Europese perdevleis-skandaal ook op ander kontinente opslae gemaak het.

In die jongste voorval is ‘n ingevoerde lasagne-dis van winkelrakke in Hongkong verwyder.

Die meeste Switserse supermarkte het Woensdag perdevleis-produkte van hul rakke gehaal ná dit aan die lig gekom het dat haglike toestande heers op baie plase waar perde vir vleis geteel word.

Die Duitse afslag-supermarkgroep Lidl sê hy het alle perdevleis-produkte van sy rakke in Switserland verwyder, terwyl die land se tweede grootste supermarkgroep, Coop, gesê het hy het sowat 20 worsprodukte wat perdevleis bevat, onttrek.

Dié stappe kom te midde woede oor ‘n ondersoekende verbruikersprogram wat Dinsdagaand op 'n Switserse televisiekanaal uitgesaai is. Die beeldmateriaal het uitgeteerde en siek perde gewys wat op plase in verskeie lande aangehou word wat vleis aan Switserse winkels verskaf.

Die dierebeskermingsvereniging in Zürich het ondersoekbeamptes na Kanada, die VSA, Mexiko en Argentinië gestuur, lande wat groot hoeveelhede perdevleis verskaf, om te ondersoek hoe die diere aangehou, vervoer en geslag word.

“Ons ondersoekbeamptes het gevind dat die perde geteel word in toestande wat nie voldoen aan enige van die norme wat in Switserland en die Europese Unie aanvaar word nie,” het Sabrina Gurtner, die projekleier, gesê.

Coop het nietemin gesê hy sal voortgaan om vars perdevleis te verkoop en het uitgewys dat hy 70% van sy perdevleis van Frankryk ontvang en die ander 30% van Pole.

Switserland se grootse supermarkgroep, Migros, het intussen gesê hy sal geen perdevleis-produkte onttrek nie en sê hy vertrou sy Kanadese verskaffer.

Gedroogde perdevleis-produkte word oor Switserland heen aangetref.

Sapa, Nuus24

More from World News

You May be Interested in

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.