Local News
Kyle Stols se broer vra, kom beleef alle vermoorde slagoffers se geliefdes se “seer”─── CHRISTAL-LIZE MULLER 16:38 Thu, 26 Oct 2017

'n Jong voorman wat op 'n wildplaas in die Jagersfontein-distrik in die Vrystaat vermoor is, was sprankelend en altyd vriendelik.
Hy het net die mooi in enige situasie raakgesien. So beskryf die 21-jarige Kyle Stols se broer, Gawie, hom nadat Kyle Sondag op dié plaas buite ‘n gastehuis dood is. Gawie sê sy broer het skietwonde in die bors, kop en voet gehad. Hy het Sondagmiddag vroeg 'n noodboodskap op 'n selfoongroep gestuur waarin hy hulp ontbied het omdat hy gewond is. Gawie sê Kyle leef in hul harte voort en hulle weet hy is nie “vir altyd weg nie,” hy sal altyd “naby” hulle wees. Hulle sal Kyle onthou vir die grappe wat hy altyd gemaak het waar hy ook al gegaan het, vir sy “poetsbakkery” en omgee vir sy medemens en sy liefde vir diere. “Hy het voluit geleef tot die einde toe.”
Gawie sê enigiemand kan Kyle se begrafnisdiens vanuit die NG kerk Verkeerdevlei asook die ter aardebestelling môre (Vrydag) omstreeks 11:00 bywoon.
“Ek nooi die hele wêreld uit.” Mense moet in hul hartseer kom deel, maar ook in die smart en leed wat alle naasbestaandes en geliefdes van vorige slagoffers ervaar, ongeag van die omstandighede waarin hulle vermoor is.
“Dit is nou maar ongelukkig so dat my broer op die plaas vermoor is, maar ek bly in ‘n stad.” Hy sê enigiemand kan vermoor word, “weggeruk word”, ‘n gesin, families, vriende wat stukkend is.
“Ek wil hê jy moet saam met ons kom huil en jy moet saam met ons net ‘n rukkie kan stilstaan en besef daai mense wat dood is, is mense.” Slagoffers het families en geliefdes, sê hy.
OFM-nuus