On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

South Africa

Hantam-Karoo het tweede skoonste lug ter wêreld

───   15:00 Wed, 12 Mar 2025

Hantam-Karoo het tweede skoonste lug ter wêreld | News Article
Nieuwoudtville in die Hantam-Karoo het volgens dié verslag die tweede skoonste lug ter wêreld. Foto: Facebook

Nieuwoudtville in die Noord-Kaap het volgens IQAir se 2024-wêreldverslag oor luggehalte die naasskoonste lug ter wêreld.

Dit is die tweede jaar agtereenvolgens dat dié dorpie, halfpad tussen Vredendal en Calvinia, onder die voorste 20 ter wêreld tel. Die lug hier is ook volgens die verslag die skoonste in Afrika, gevolg deur Worcester en Kaapstad.

Aan die ander kant word Centurion en Vereeniging in Gauteng gelys onder Afrika se 15 mees besoedelde stede. Die verslag meet fyn deeltjies wat verband hou met ernstige kwale soos asma, kanker, beroertes en longsiektes.

Die Switserse tegnologiemaatskappy IQAir het Dinsdag (11/3) sy sewende jaarlikse verslag oor luggehalte wêreldwyd uitgereik. Dit het data van meer as 40 000 luggehaltemoniteringstasies op 8 954 plekke in 138 lande, gebiede en streke ingesamel en ontleed. 

In Afrika is egter net een moniteringstasie vir elke 3,7 miljoen mense, vergeleke met die wêreldgemiddeld van een vir elke 830 000 inwoners.

Om luggehalte te bepaal, word konsentrasies van PM2.5 of fyn deeltjies gemonitor. Fyn deeltjies is een van ses belangrike lugbesoedelingstowwe wat wêreldwyd gemeet word en ’n beduidend nadelige uitwerking op mense se gesondheid het.

Graphic: News24

“Blootstelling aan verhoogde vlakke van fyn deeltjies tydens swangerskap en vroeë kinderjare word geassosieer met aangebore hartdefekte, ekseem en allergiese siektes, kognitiewe gestremdhede, neuro-ontwikkelingsafwykings en geestesgesondheidsversteurings,” lui die verslag.

Dié fyn deeltjies is afkomstig van veldbrande, sand- en stofstorms, sowel as menslike bedrywighede soos die verbranding van hout, steenkool, die verbranding van gewasse vir landboudoeleindes, kragsentrales wat op fossielbrandstowwe staatmaak, sowel as die uitlaatgasse van motors en vragmotors wat aangedryf word deur petrol en diesel.

Slegs sewe lande het volgens Reuters verlede jaar aan die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) se luggehaltestandaarde voldoen. Navorsers waarsku dat die stryd teen besoedeling ál strawwer sal word noudat die VSA sy globale moniteringspogings gesluit het.

Australië, Nieu-Seeland, die Bahamas, Barbados, Grenada, Estland en Ysland is die enigste lande wat aan die WGO se standaarde voldoen het, sê IQAir. Die WGO beveel vlakke van nie meer as 5 mg/m³ aan nie, ’n standaard waaraan slegs 17% van stede verlede jaar voldoen het.

Groot datagapings, veral in Asië en Afrika, vertroebel die wêreldwye prentjie, en baie ontwikkelende lande het staatgemaak op luggehaltesensors wat op Amerikaanse ambassade- en konsulaatgeboue gemonteer is om hul besoedelingsvlakke te monitor. 

“Die meeste lande het ’n paar ander databronne, maar dit gaan Afrika aansienlik beïnvloed, want dikwels is dit die enigste bronne van beskikbare intydse luggehaltemoniteringsdata,” sê Christi Chester-Schroeder, IQAir se bestuurder van luggehaltewetenskap.

OFM Nuus mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.