On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Rugby

Serfontein uit met gebreekte gewrig

───   MORGAN PIEK 12:47 Fri, 03 Jun 2016

Serfontein uit met gebreekte gewrig | News Article
Jan Serfontein - Gallo

Die Springbokke het vanoggend ‘n groot terugslag beleef ná die nuus dat die Bulls-senter, Jan Serfontein, uit is weens ‘n gewrigbesering.


Serfontein het die besering tydens die Springbokke se oefenkamp in Stellenbosch opgedoen. ‘n Skandering het getoon dat hy ‘n fraktuur van sy gewrig het.

“In hierdie stadium lyk dit asof Jan Serfontein vir ‘n ruk nie beskikbaar gaan wees nie,” het breier Allister Coetzee gesê.

‘n Spesialis sal besluit of die speler geopereer moet word of nie, en hy kan moontlik die res van die Super Rugby-reeks, asook die Rugbykampioenskap misloop.

Na wat verneem word, sal ‘n plaasvervanger nie na die span toe opgeroep word nie.

“Ons is reg met wat ons op die oomblik het.

“Ons sal nie enige oorhaastige besluite neem nie. JP Pietersen kan daar speel en Pat Lambie kan daar speel. Ek sê nie dit is wat ons gaan doen nie, maar daar is genoeg moontlikhede.

“Om ‘n speler soos Jan Serfontein te verloor is 'n bietjie van 'n terugslag. Jy wil graag jou beste spelers beskikbaar hê, maar dit is 'n geleentheid vir 'n paar ander spelers.”

Daar was egter ook goeie nuus vir Allister Coetzee en sy tegniese span.

Die Lions-losskakel, Elton Jantjies, sal na verwagting fiks wees vir die eerste toetswedstryd teen Ierland. In dié stadium oefen Jantjies, maar neem nie aan die kontaksessies deel nie.

Die slot, Pieter-Steph du Toit, oefen ook weer nadat hy verlede week ‘n dyspierbesering in die Stormers se Super Rugby-kragmeting teen die Toyota Cheetahs opgedoen het.

Aanvanklik is gereken dat die hemelbesem tussen twee en ses weke op die krukkelys sou wees, maar hy kan egter teen volgende week volkome herstel het vir die eerste toets.

Die Springbokke pak Ierland volgende Saterdagmiddag om 17:00 in die eerste toetswedstryd op Nuweland in Kaapstad.

Morgan Piek/OFM-nuus

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.