On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Agriculture

Die verantwoordelikheid van landbouers, tot rentmeesterskap

───   ELSABÉ RICHARD 05:00 Thu, 28 Jul 2022

Die verantwoordelikheid van landbouers, tot rentmeesterskap | News Article

Dis wonderlik hoe die mens die verantwoordelikheid gegee is om nie net na sy medemens om te sien nie, maar ook die natuur.

Hierdie konsep word rentmeesterskap genoem. 

Janet Lawless van InteliGro sê veral landbouers het ‘n unieke verantwoordelikheid tot rentmeesterskap.

Sien onderstaande PODCAST

In terme van voedselsekerheid en -sekuriteit is verbruikers totaal afhanklik van produsente.

Landbouers se produksiemetodes en -tegnieke het ’n direkte impak op die omgewing en natuurlike hulpbronne, en dus sê Lawless het hulle ’n belangrike rol om te speel wat rentmeesterskap aanbetref.

LEES OOK: Geïntegreerde plantbestuur kan lei tot voortgesette sitrussukses

“In die konteks van landbou, is rentmeesterskap ‘n uiters praktiese saak wat elke mens raak omdat die optrede van landbouers en landbourolspelers ‘n direkte impak op die omgewing en natuurlike hulpbronne het – en dit bepaal uiteindelik of daar kos op ons tafels is of nie.”

Soos die jare verbygegaan het, het tegnologie en wetenskap verbeter, maar ten spyte van hierdie verbeterings en toename in kosproduksie, is daar steeds mense regoor die wêreld wat nie kos op hulle tafels het nie, en talle produsente het nie toegang tot hierdie wetenskap en tegnologie nie, vertel Lawless verder.

LEES OOK: Monitering goeie manier om aartappelmot te beheer

“Nuwe probleme het die lig gesien, soos weerstand wat ontwikkel het as gevolg van die herhaaldelike gebruik van hierdie middels wat bekendgestel is, en dit was voorheen effektiewe middels. Ons grondvrugbaarheidstatus het verlaag en baie ondergrondse waterbronne is reeds uitgeput.”

Lawless deel verder dat InteliGro, sover dit die landbou aangaan, drie fasette geïdentifiseer het wat kan help om natuurlike hulpbronne te beskerm:

  1. "Die snel groeiende wêreldbevolking vereis dat meer kos geproduseer word. Die probleem is egter dat daar nie regtig meer onbewerkte landbougrond beskikbaar is nie; verstedeliking en ontwikkeling lê inteendeel toenemend beslag op bewerkbare grond, wat beteken dat meer met minder vermag moet word.
  2. "Die skaarsheid van natuurlike hulpbronne, veral grond en water, vereis verantwoordelike en volhoubare produksie. Ons kan nie bekostig om die grond se vrugbaarheid te verwoes en waterbronne droog te trek of te besoedel in die naam van produksie nie. Dit het ‘n korttermyn impak op, onder meer, voedselveiligheid en ‘n langtermyn impak op voedselsekuriteit.
  3. "Om bostaande uitdagings die hoof te bied, steun produsente swaar op gewasbeskermingprodukte en -tegnologie. Produkrentmeesterskap is daarom dus ook op landbou se agenda: die produkte en tegnologie tot ons beskikking moet beskerm word sodat hulle bruikbaar bly om optimale opbrengste te help realiseer. ‘n Streng regulatoriese omgewing het die kostes om nuwe gewasbeskermingmolekules na te vors en te ontwikkel, astronomies laat styg. Die landbou-industrie is dus onder geweldige druk om bestaande middels se leeftyd te beskerm en selfs te verleng deur hulle verantwoordelik en volgens die gebruiksriglyne te hanteer en te gebruik. Op hierdie manier spreek ons nie net die volgehoue effektiwiteit van die middels aan nie, maar beperk ons ook die moontlike negatiewe impak op die omgewing en die algemene welstand van mens en dier tot ’n absolute minimum.

Lawless se wenke vir landbouers oor hoe hulle goeie rentmeesters kan wees, sluit in “om te doen wat jy kan met dit wat jy het. 

"Ek glo ’n goeie begin kan wees om jou huidige situasie te evalueer en ’n gewenste uitkoms vir jou besigheid met betrekking tot rentmeesterskap te gaan omskryf. ’n Paar vrae wat jy ook jouself kan afvra is:

  • "Hoe lyk my gewasbeskerming weerstand-strategie?
  • "Raak ek op die veilige manier van afvalprodukte ontslae?
  • "Gebruik ek produkte volgens hulle gebruiksaanwysings?
  • "Is my personeel bemagtig om verantwoordelik met produkte en tegnologie te kan werk?

"Ek dink die gedagte is dat rentmeesterskap ’n kernrol moet speel in die manier waarop ons produseer," sluit Lawless af.

OFM-nuus


@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.