On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Agriculture

Landbounuus-podcast: EU-pluimveestudie 'n klug - belanghebbendes

───   14:36 Mon, 19 Aug 2019

Landbounuus-podcast: EU-pluimveestudie 'n klug - belanghebbendes | News Article

'n Nuwe studie wat deur die Europese Unie (EU) gedoen is oor die sogenaamde krisis in die Suid-Afrikaanse pluimveebedryf is 'n klug.


Dit is volgens Aziz Sulliman, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging, wat meen die studie is doelbewus nie 'n werklike weerspieëling van wat in Suid-Afrika plaasvind nie. Hy sê dié studie ignoreer die hele kwessie rondom die storting van hoenderprodukte uit die EU en die nadeel wat dit vir die Suid-Afrikaanse pluimveebedryf inhou. Een van die voorstelle uit die studie is dat Suid-Afrika sou baat uit nóg invoer van Europa. Volgens Sulliman is dit 'n duidelike bewys van die ware agenda agter dié studie.

Intussen sê Francois Baird, stigter van die teenstortingsbeweging, Fairplay, dat die Europese Unie (EU) se jongste studie oor die Suid-Afrikaanse hoenderbedryf nie probleme in die plaaslike bedryf oplos nie. Dit dra ook nie by tot werkskepping nie. Baird sê dié studie fokus op die uitvoerpotensiaal van die Suid-Afrikaanse hoenderbedryf en die vele probleme wat daarmee saamgaan en nie op die skade wat aangerig word weens storting van sekere hoenderporsies in Suid-Afrika nie. Volgens hom is Fairplay drie jaar gelede op die been gebring juis om die vernietigende uitwerking van storting op die plaaslike landboubedryf te beklemtoon. Hy sê Suid-Afrikaanse produsente is kompeterend, maar trek aan die kortste ent weens storting van hoenderprodukte van die EU en Brasilië.

Baird sê dit is juis nou belangrik dat Fairplay sterk standpunt inneem met die oog op die Kommissie vir Internasionale Handelsadministrasie (ITAC) se aanbeveling wat aan Ebrahim Patel, minister van handel, nywerheid en mededinging gemaak moet word. Die aanbeveling is oor hoenderprodusente se aansoek vir 'n maksimum-tarief op ingevoerde hoendersnitte. Dit sluit spesifiek Brasiliaanse bevrore hoenderporsies, wat stukke op die been is, en kleiner ontbeende hoenderporsies in.

EN

Daar is verkeie redes vir die kommerwekkende feit dat sekere rooigrasgebiede in dele van die Vrystaat glad nie saad geskiet het dié seisoen nie. Rick Dillon, 'n boer en raadslid van die GrassFed-vereniging van Suid-Afrika, sê die oorsaak van die vreemde verskynsel is weens skadelike en verkeerde boerdery-praktyke. Dillon sê die weidingspatrone van die laaste 70 jaar het radikaal verander weens die toename in veebevolkings. Daarom word 'n groot deel van veral rooigras uitgeroei of vertrap. Hy sê brande is egter 'n veel meer skadelike oorsaak vir die gebrek aan rooigrassaad. Volgens Dillon is die aanhoudende gebruik van ureum om weivelde produktief te hou gedurende wintermaande nog 'n probleem wat daartoe kon bydra. Dit is veral die ureum wat die mikrobiologie van die rooigrasvelde beskadig en dan voorkom dat dit saad skiet.



OFM-nuus/Christal-Lize Muller en Vernon Baumann


@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.