On Now
Weekends 16:00 - 20:00
OFM Decades James
NEXT: 20:00 - 23:59 The Music Man Mix with The Music Man
Listen Live Streams

International

China sal gewilde paar reusepandas in Australië vervang

───   14:30 Tue, 18 Jun 2024

China sal gewilde paar reusepandas in Australië vervang | News Article
Wang Wang is op pad terug na China. Foto: Adelaide-dieretuin

“Dieretuinbewaarders is mal oor sy Shrekagtige ore, wat uiters goed reageer op klank in sy omgewing.”

China sal nuwe reusepandas aan Australië leen om die gewilde paar te vervang wat ná meer as ’n dekade saam nie ’n nageslag voortgebring het nie.

Die Chinese premier Li Qiang het deur Adelaide-dieretuin gestap en Australië se enigste paar pandas, Wang Wang en Fu Ni, besoek. Hy het aangekondig dat die geliefde paar pandas ná 15 jaar na China sou terugkeer, maar het belowe om hulle met ’n nuwe paar van dié ikoniese spesie te vervang.

‘Program is ontwerp om die kwesbare spesie te bewaar’

Die Adelaide-dieretuin was sedert 2009 die tuiste van Wang Wang en Fu Ni toe hulle deur China geleen is as deel van ‘n wêreldwye bewaringskema, wat ook dien as ’n instrument van “panda-diplomasie”. Vyftien jaar later kon dié paar egter nie daarin slaag om ’n nageslag voort te bring nie. 

Om panda-welpies te teel is glo ’n moeilike taak. Die hoop op dragtigheid in Adelaide, insluitend deur die gebruik van kunsmatige inseminasie, is herhaaldelik beskaam. Wang Wang en Fu Ni is deel van die internasionale Giant Panda-navorsing-bewaring-en-teelprogram om hierdie kwesbare spesie te bewaar.

Wang Wang (Net Net) is op 31 Augustus 2005 gebore en Fu Ni (Lucky Girl) op 23 Augustus 2006 – albei in die Woolong Giant Panda-navorsingsentrum in China. Hulle het in November 2009 saam na die Adelaide-dieretuin verhuis.

Fu Ni is intelligent, speels en lief vir interaksie met dieretuinbewaarders heel waarskynlik omdat sy ’n tweeling was en gedeeltelik met die hand grootgemaak is. Sy het ’n silwermedalje vir die Gewildste Panda buite China in ’n aanlyn kompetisie gewen. 

Fu Ni is kleiner as Wang Wang en het ’n mohawkagtige koeilek tussen haar ore. Fu Ni hou van enige vorm van ’n kosbeloning, veral appel-, peer- en pandakoek.

Wang Wang is ’n rustige knapie en meer onafhanklik as Fu Ni, waarskynlik omdat hy deur ’n enkelma grootgemaak is. Hy is sowat 10 kg swaarder as Fu Ni en het ’n manliker voorkoms met ’n breër neus en skerp kakebeenlyn. 

Dieretuinbewaarders is mal oor sy Shrekagtige ore wat uiters goed reageer op klank in sy omgewing. Wang Wang geniet reukgebaseerde verryking en is gek oor ’n groot kartondoos gevul met vars saagsels en dan daarin rond te rol.

Om die enigste paar reusepandas in Australasië te huisves, het gelei tot 'n heeltemal nuwe stel wetenskaplike data wat die verskille tussen hemisfere beklemtoon en hoe dit pandas se voedingsbehoeftes en reproduktiewe biologie beïnvloed.

Premier Li is die eerste senior Beijing-leier wat Australië sedert 2017 besoek het, ’n aanduiding van beter betrekkinge tussen die twee lande ondanks toenemende spanning in ’n voorheen onstuimige verhouding weens veiligheid in die Asië-Stille Oseaan-streek.

‘Ons sal nie altyd saamstem nie’

Anthony Albanese, Australië se premier, het Maandag die behoefte aan “volwasse” dialoog tussen die twee lande sterk gesteun en die vordering geloof wat tot dusver gemaak is. Hy het egter versoeke van die Chinese regering – om hul verskille tersyde te stel – sagkens van die hand gewys.

“Ons sal nie altyd saamstem nie en die punte waaroor ons verskil, sal nie sommer verdwyn as ons nie werk maak daarvan nie," het Albanese gesê. Amptenare en ministers het ná Albanese en Li se leiersvergadering ’n reeks ooreenkomste onderteken, insluitend een om ekonomiese dialoog en samewerking oor die klimaatskrisis te verdiep.

OFM News dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.