On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

International

Titan-watertuig het reeds Sondag ingeplof, sê Amerikaanse vloot

───   12:30 Fri, 23 Jun 2023

Titan-watertuig het reeds Sondag ingeplof, sê Amerikaanse vloot | News Article
Die seeverkenningsgemeenskap was baie bekommerd oor die watertuig en Cameron vergelyk dit met waarskuwings wat meer as ’n eeu gelede aan die kaptein van die Titanic gerig is.

Die Titan-watertuig met vyf mense aan boord het waarskynlik reeds Sondag ingeplof, minder as twee uur nadat dit sy duikvaart na die Titanic-skeepswrak begin het.

'n Hoogsgeheime akoestiese opsporingstelsel van die Amerikaanse vloot het Sondag 'n klank-"afwyking" in die Noord-Atlantiese Oseaan waargeneem wat waarskynlik die noodlottige inploffing van die watertuig was, berig die AlJazeera-nuusagentskap.

Die watertuig was op 'n ekspedisie na waar die skeepswrak van die Titanic 4 km onder die oppervlak op die seebodem lê.

'n Senior militêre amptenaar van die vloot sê akoestiese data wat ontleed is nadat die Titan as vermis aangemeld is, het 'n afwyking gevind “wat ooreenstem met 'n inploffing of ontploffing in die omgewing van waar die watertuig was toe kommunikasie verbreek is”.

Bemarkingsmateriaal van OceanGate wys hoe die Titan ter see gelaat word. FOTO: Skermgreep/OceanGate

Die vloot het die Amerikaanse kuswag ingelig, wat nogtans sy soektog na die Titan voortgesit het omdat die vloot die data nie as beslissend beskou het nie, het die beampte aan Associated Press gesê.

'n Onbemande, afstandbeheerde watertuig het vyf groot fragmente van die 6,7 m-lange Titan op die seebodem gevind, sowat 488m van die boeg van die wrak van die Titanic. Geen melding is gemaak of menslike oorskot gesien is nie.

Die vyf Titan-slagoffers, kloksgewys van bo links: Hamish Harding, Suleman en Shahzada Dawood, Paul-Henri Nargeolet en Stockton Rush.

Die vyf Titan-slagoffers, kloksgewys van bo links: Hamish Harding, Suleman en Shahzada Dawood, Paul-Henri Nargeolet en Stockton Rush.

Die vyf mense aan boord van die Titan was OceanGate se medestigter, Stockton Rush (61), wat die vaartuig bestuur het; 'n Britse miljardêr, sakeman en ontdekkingsreisiger, Hamish Harding (58); ’n Pakistan-gebore sakeman Shahzada Dawood (48) en sy seun, Suleman (19), albei Britse burgers; en die Franse oseanograaf en bekende Titanic-kenner Paul-Henri Nargeolet (77), wat die wrak al dosyne kere besoek het.

Ooreenkoms is verstommend, sê Titanic-regisseur

Die regisseur van die Hollywood-trefferfliek Titanic en bekende diepsee-ontdekkingsreisiger James Cameron, sê waarskuwings oor die Titan se veiligheid is geïgnoreer, berig Reuters.

Cameron sê daar was groot kommer in die seeverkenningsgemeenskap oor die watertuig en hy het dit vergelyk met dié van waarskuwings wat meer as ’n eeu gelede aan die kaptein van die Titanic gerig is.

“Die ooreenkoms met die Titanic-ramp is treffend. Vir 'n baie soortgelyke tragedie, waar waarskuwings nie aan gehoor gegee is nie, om op dieselfde plek plaas te vind ... dit is net verstommend.”

Cameron was in 2012 die eerste mens om alleen na die heel diepste deel van die oseaan te duik in 'n duikboot wat hy self ontwerp en gebou het.

‘Mans aan boord het avontuurlus gedeel’

OceanGate het in 'n verklaring die vyf mense wat op die Titan gesterf het, beskryf as "ware ontdekkingsreisigers wat 'n liefde vir avontuur gedeel het”, berig BBC.

Mans aan boord van 'n vorige Titan-ekspedisie. FOTO: Skermgreep/OceanGate

In die dae voordat die Titantuig by Newfoundland in Kanada ter see gelaat is, het die jong Suleman Dawood, wat sy pa Shahzada op die ekspedisie vergesel het, laat blyk dat hy “nie baie lus was daarvoor nie” en dat hy “baie bang” was, het sy tannie, Azmeh Dawood, aan NBC News vertel.

Jong student was bang om reis mee te maak

Die 19-jarige student het uiteindelik aan boord geklim. “Dit was Vadersdag en hy was gretig om sy pa, wat passievol was oor die Titanic, te behaag,” sê sy. Sy was platgeslaan toe OceanGate Donderdag bevestig het dat al vyf passasiers aan boord vermoedelik dood is.


Die familie van die Britse miljarder Hamish Harding het hom in 'n verklaring as "enig in sy soort" beskryf. "Hy was 'n passievolle ontdekkingsreisiger wat geleef het vir sy gesin, sy besigheid en vir die volgende avontuur."

Die diepsee-reis was net nóg een van Harding se indrukwekkende wedervaringe waarvoor hy met drie Guinness-wêreldrekords spog. Hy was een van ses ruimtevaarders wat verlede jaar die Blue Origin-sending meegemaak het en het ook verskeie reise na die Suidpool onderneem, insluitend een saam met die afgetrede Apollo-ruimtevaarder Buzz Aldrin, wat op 86 die oudste persoon geword het om die pool te bereik.

Harding en Paul-Henri Nargeolet, 'n legendariese diepsee-verkenner, was baie goeie vriende. Nargeolet se familie het in 'n huldeblyk gesê “sy huis weg van die huis was die see”. 

"Maar waarvoor ons hom die meeste sal onthou, is sy groot hart, sy ongelooflike sin vir humor en hoe lief hy sy familie gehad het."

Nargeolet het die Titanic-skeepswrak meer as 30 keer besoek.

Fragmente van die 6,7 m-lange Titan is op die seebodem gevind, sowat 488m van die boeg van die wrak van die Titanic. FOTO: Skermgreep/OceanGate

OceanGate se Stockton Rush, wat volgens 'n artikel deur News24 as 'n “waaghalsige uitvinder” beskryf is, het sy maatskappy in 2009 gestig om die tegnologie van onderwatertuie te bevorder en reisigers na die donkerste dieptes van die see te neem.


Hy het diepseeverkenning as “baie veilig” beskou, maar ook gekla dat streng regulasies die bedryf striem.

"Dit is baie veilig omdat hulle al hierdie regulasies het. Maar dit vernuwe of groei nie - want hulle het al hierdie regulasies," het Rush in 2019 aan die Smithsonian-tydskrif gesê.


In 'n poging om sy maatskappy se naam uit te bou, het hy in 2021 begin om betalende klante na die ikoniese wrak van die Titanic op sy spesiaal geboude vaartuig te neem.

OFM Nuus




@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.