Central SA
Mans gesoek ná rooftog op Vrystaatse Goudveld─── CHARNÉ VAN DER MERWE 11:14 Mon, 07 Apr 2025

Die Vrystaatse polisie vra die publiek moet help met inligting oor twee verdagtes ná ’n gewapende rooftog.
Die Valke se ondersoekeenheid vir ernstige georganiseerde misdaad in Welkom soek die twee mans wat moontlik waardevolle inligting het oor die rooftog Saterdag (5/4) op Odendaalsrus, sê ao. Fikiswa Matoti, Vrystaatse woordvoerder.
Drie veiligheidswagte was besig om kontant by ’n groothandelaar op Odendaalsrus op te laai toe vier gewapende verdagtes hulle oorval en van hul vuurwapens beroof het. Die aanvallers het op die bestuurder van die gepantserde geldwa geskiet voordat hulle in ’n silwerkleurige Mercedes-Benz-luikrug met Vrystaatse nommerplate gevlug het. Niemand is beseer nie.
Een van die verdagtes. Foto verskaf
Enigiemand wat kan help om die verdagtes op te spoor, moet speurkapt. Serake Modisadife by 071 481 2722 bel. Die MySAPS-app kan gebruik word om inligting te deel of bel Stop Misdaad by 08600 10111.
Die Noord-Kaapse polisie soek steeds na verdagtes nadat gesteelde vee in die Kalahari teruggevind is.
’n Boer van Tsineng, sowat 55 km noordwes van Kuruman, het op 16 Maart ontdek dat die heining van sy kraal oopgesny is en van sy vee vermis word, sê sers. Merapelo Pilane.
Die gesteelde vee. Foto verskaf
Die diefstal is by die polisie op Tsineng aangemeld, wat die Noord-Kaapse ondersoekeenheid vir veediefstal en bedreigde spesies gevra het om in te gryp.
Volgens Pilane is twee speurders ontplooi om inligting op te volg oor waar die gesteelde diere is. Die beamptes het tien bokke en tien skape opgespoor en teruggekry, wat aan hul regmatige eienaar terugbesorg is.
Enigiemand wat kan help om die verdagtes op te spoor, moet speursers. Velile Tshabalala by 082 454 3540 nader. Die MySAPS-app kan gebruik word om inligting te deel of bel Stop Misdaad by 08600 10111.
OFM Nuus cg