Central SA
Twee historiese beelde binne week in Noordwes gevandaliseer─── CHARNÉ VAN DER MERWE 10:13 Mon, 07 Apr 2025

Skaars ’n week nadat ’n ruiterstandbeeld van ’n Boeregeneraal in Noordwes gevandaliseer is, is die borsbeeld op sy graf ontsier deur dit te onthoof.
Die standbeeld sowel as die borsbeeld van genl. Koos de la Rey is in die bestek van enkele dae beskadig, sê Ziegfried van Huyssteen, bedryfshoof van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK).
“Die FAK het Saterdag (29/3) verneem dat die borsbeeld op die graf beskadig is, enkele dae nadat ’n FAK-span die grafte van Koos en Nonnie de la Rey besoek het en aangenaam verras was om te sien hoe goed dié grafte deur die gemeenskap onderhou word.”
Die FAK het Saterdag (5/4) Lichtenburg besoek om die vandalisering van die De la Rey-ruiterbeeld te ondersoek. De la Ray is op Winburg in die Vrystaat gebore, maar sy gesin het in 1848 na die Wes-Transvaal verhuis en hulle naby Lichtenburg gevestig. Hy het tydens die Anglo-Boereoorlog bekendgeraak as die Leeu van Wes-Transvaal.
De la Rey se graf. Foto: FAK
Volgens Van Huyssteen was die FAK se besoek aan Lichtenburg deel van ’n groter projek om die vandalisme van die De la Rey-ruiterstandbeeld op Lichtenburgplein te ondersoek. Die FAK het ’n brief by die Ditsobotla-munisipaliteit afgelewer waarin die bestuur versoek word om groter verantwoordelikheid te aanvaar vir die dorp se erfenisbakens, sê Van Huyssteen.
Vandale het De la Rey se graf ook in April 2021 beskadig. Die FAK het destyds ingegryp en die graf met die hulp van beeldhouer Jacques Müller herstel. Ongelukkig blyk dit dat die geskiedenis homself herhaal, aangesien die graf se historiese betekenis weereens “onthoof” is, sê Van Huyssteen.
‘Amptenare is onbevoeg om hul rol as erfenisbewaarders te vervul’
“Die FAK eis aanspreeklikheid vir die vernietiging van ons erfenis,” sê hy. “Dit is duidelik dat die munisipaliteit sy plig versuim om die dorp se ryk kultuurgeskiedenis te beskerm. Ons moedig die gemeenskap aan om met die FAK te verenig om ’n einde aan hierdie verwoesting te maak.”
Sedert 2021 het die FAK heelwat moeite in Lichtenburg belê, veral ná die aanvanklike beskadiging van De la Rey se graf. Maar dit word ál duideliker omdat die munisipaliteit se amptenare onbevoeg is om hul rol as erfenisbewaarders te vervul, vertel Van Huyssteen.
Die FAK gun die munisipaliteit twee weke om aan sy eise in sy skrywe te voldoen. So nie, is die FAK bereid om verdere stappe te doen om die dorp se erfenis te beskerm.
Die borsbeeld op De la Rey se graf is beskadig en sy kop afgekap. Foto: FAK
“Ons erken die ontsaglike belangrikheid daarvan om hierdie kultuurskatte te bewaar, en die FAK is daartoe verbind om saam met generaal de la Rey se nageslagte te help om sy nalatenskap te beskerm,” sê Van Huyssteen. “Ons hoop ook om die standbeeld wat verlede week beskadig is, te herbou of te herstel.”
Barry Müller, hoof van nasionale projekte by die FAK, voeg by die situasie het ’n kritieke punt bereik. “Die growwe nalatigheid van die Ditsobotla-munisipaliteit is ’n uiterste skande. Dit is tyd dat hulle aanspreeklik gehou word.
“Die skade wat die afgelope jare aan Lichtenburg se erfenis aangerig is, is kommerwekkend en dit laat die vraag ontstaan: Wat gaan volgende vernietig word?”
Die dorp se Landboumuseum, wat voorheen ’n trotse punt was, lê nou weggesteek agter digte, toegegroeide plantegroei nadat ’n verwoestende brand verlede jaar op die terrein uitgebreek het en onvervangbare erfenisitems in puin gelê het.
Die Ampie Bosman-museum is intussen verlede jaar deur vlamme verteer en staan steeds in ’n vervalle toestand. Ondanks die FAK se pogings om te red wat te redde was, het plakkers die ineengestorte gebou betrek.
Bowendien het landmerke soos die Afrikaanse Taalmonument en die Voortrekker-eeufeesgedenkteken met die jare onherstelbare skade gely. “Die skade aan Koos de la Rey se standbeeld verlede week, gevolg deur die vandalisme van sy graf, is die laaste strooi,” sê Müller. “Hierdie vernietiging moet eindig, en dit moet nou eindig.”
OFM Nuus cg