On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Anny
Listen Live Streams

Central SA

Inwoners help rowers in Bloemfonteinse middestad aankeer

───   KEKELETSO MOSEBETSI 13:10 Fri, 28 Mar 2025

Inwoners help rowers in Bloemfonteinse middestad aankeer | News Article
Mangaung-inwoners het die polisie gehelp om verdagtes vas te trek. Photo: Skermskoot

Bloemfonteiners het ’n deurslaggewende rol gespeel in die polisie se inhegtenisneming van talle verdagtes wat verdink word van rooftogte in die middestad.

Twee video’s is wyd op sosiale media versprei waarin ’n groep misdadigers helder oordag op slagoffers toeslaan.

In die een kan gesien word hoe ’n groep mans ’n rooftog uitvoer terwyl omstanders toekyk. Inwoners het ingegryp en ’n vermeende rower vasgetrek en hom aan die polisie oorhandig.


Volgens die polisie het lede van Parkweg se eenheid vir misdaadvoorkoming die eerste video raak gesien terwyl hulle aan diens was, wat tot ’n vinnige reaksie gelei het.

Twee mans, onder wie ’n buitelander wat glo die gesteelde goedere gekoop het, is in hegtenis geneem. Nog drie verdagtes is Donderdagmiddag (27/3) aangekeer, wat die totaal op ses te staan gebring het.

Daarna het die distrikstaakspan wenke opgevolg en nog drie verdagtes gevang, wat die getal inhegtenisnemings op nege te staan bring, sê Mahlomola Kareli, Vrystaatse polisiewoordvoerder.

Hy het voorts bevestig dat die verdagtes (31 tot 45) teregstaan op ernstige aanklagte van roof met verswarende omstandighede. Hulle verskyn Maandag (31/3) in die Bloemfonteinse landdroshof. 

Nog aanklagte kan moontlik volg namate die ondersoek vorder.

Die polisie doen ’n beroep op slagoffers wat in die videomateriaal verskyn om na vore te kom en sake te open. Dit sal help met die lopende ondersoek, sê Kareli.

 OFM Nuus/Kekeletso Mosebetsi mv

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.