On Now
Weekends 16:00 - 19:00
All Request Sunday Nikki
NEXT: 19:00 - 20:00 Nuut in Afrikaans with OFM
Listen Live Streams

Central SA

Potchefstroomse student gegroet ná sy onverwags sterf

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 14:35 Thu, 27 Mar 2025

Potchefstroomse student gegroet ná sy onverwags sterf | News Article
Chrizaan Agenbach. Foto verskaf

’n Student van Noordwes word Sondag (30/3) gegroet nadat sy onverwags in haar slaap dood is.

Chrizaan Agenbach (20) is Maandag (24/3) oorlede, net twee weke nadat sy haar 20ste verjaardag op 10 Maart gevier het, sê ds. Johan Gericke van die Afrikaanse Protestantse Kerk in Potchefstroom.

Agenbach, ’n tweedejaar- megatroniese ingenieurstudent aan die Noordwes-Universiteit (NWU), se nadoodse ondersoek moet nog gedoen word om die oorsaak van haar dood te bepaal. Volgens Gericke was Agenbach ’n epilepsielyer en baie openlik daaroor, veral tydens kerkkampe. 

“Sover ek weet, het sy nie gereeld (toevalle) gekry nie.” Gericke beskryf Agenbach as ’n “voorbok” en ’n gewaardeerde lid van die APK-jeugtak en ’n meelewende lidmaat van die AP gemeente in Potchefstroom. 

“Chrizaan was ’n dierbare, verantwoordelike kind – baie geliefd onder almal. Haar ouers is verpletter.”

Hy sê hy en die kerk se bestuur het besluit om vir haar ’n gedenkdiens in Potchefstroom te hou aangesien hulle nie haar begrafnis in Namibië kan bywoon nie. Dit word beplan vir Sondag (30/3) om 18:30 in die AP kerk in Potchefstroom. Haar begrafnis sal volgens Gericke in Namibië plaasvind.

Onvoorspelbare toestand

Volgens Mayo Clinic is epilepsie ’n neurologiese afwyking wat gekenmerk word deur herhalende, onuitgelokte toevalle. Dié episodes word veroorsaak deur abnormale elektriese aktiwiteit in die brein, wat kan lei tot tydelike versteurings in gedrag, beweging en bewussyn.

Hoewel baie mense met epilepsie danksy behoorlike behandeling en bestuur ’n taamlik normale lewe lei, kan die toestand onvoorspelbaar wees en, in sommige gevalle, lewensgevaarlik. 

Toevalle kan sonder waarskuwing voorkom, wat dit veral gevaarlik maak vir diegene wat dit tydens slaap of tydens daaglikse aktiwiteite soos bestuur of swem kan ervaar, berig Cleveland Clinic. Hoewel nie alle toevalle dodelik is nie, kan ernstige of langdurige aanvalle tot breinbesering, respiratoriese probleme of selfs die dood lei, veral as mediese ingryping nie vinnig ontvang word nie.

OFM Nuus mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.