On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Laurika
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Vrede en stabiliteit gevra ná Vrystaatse betogings

───   ZENANDE MPAME 12:58 Mon, 03 Mar 2025

Vrede en stabiliteit gevra ná Vrystaatse betogings | News Article
Vrede en stabiliteit gevra ná Vrystaatse betogings. Foto: X

Die polisie op Parys hou ’n betoging oor dienslewering Maandag (3/3) fyn dop waar byna 800 mense vreedsaam opruk na die Ngwathe-munisipaliteit.

Skole en sommige ondernemings op die Noord-Vrystaatse dorp is gesluit nadat inwoners Sondagaand begin het om bande te brand en paaie van die township Tumahole na die dorp te versper.

Luidens ’n kennisgewing van besorgde inwoners wil hulle beraadslaag met burgemeester Victoria de Beer-Mthombeni oor Parys en Tumahole se voortdurende waterprobleme.

Niemand is tot dusver in hegtenis geneem nie en geen sekondêre of nasionale paaie is gesluit nie, het kapt. Lorraine Earle, Vrystaatse polisiewoordvoerder, vroegmiddag gesê. “Skole op die dorp bly gesluit, en baie sakeondernemings is ook vir die dag gesluit, terwyl sommige oop bly.”


Sy sê die polisie “bly daartoe verbind om die veiligheid van alle inwoners te verseker en doen ’n beroep op die gemeenskap om kalm te bly en die reg te respekteer. Openbareorde-polisie is ook op die grond om wet en orde te handhaaf.”

Intussen het inwoners van Bothaville en Nala se munisipale raad Sondag (2/3) vergader nadat skole, ondernemings, instellings en noodsaaklike dienste van Maandag tot Woensdag verlede week ontwrig is deur betogings.

Saki Mokoena, LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake, het ’n beroep op vrede en stabiliteit op Bothaville gedoen toe hy die vergadering lei ná protesoptogte in die dorp. “Inwoners het die reg om hul bekommernisse te opper, maar dit moet vreedsaam geskied. Ons het julle bekommernisse gehoor en sal dit toepaslik hanteer,” het hy gesê.

Inwoners het Sondagaand begin om bande te brand en paaie van die township Tumahole na die dorp te versper. Foto verskaf

Die protesoptog is deur bekommerde Bothavillers van stapel gestuur, wat die bedanking van die burgemeester, munisipale bestuurder en finansiële hoof geëis het, asook die beëindiging van ’n sekuriteitskontrak met ’n spesifieke maatskappy.

“Skoolonderrig in Bothaville het genormaliseer ná die ontwrigting wat deur betogings veroorsaak is,” sê Howard Ndaba, provinsiale onderwyswoordvoerder.

“Die protesoptogte het duisende leerders geraak en ouers, onderwysers en amptenare moes skielik na oplossings soek. Met die akademiese jaar wat reeds aan die gang is, plaas elke verlore dag leerders op ’n agterstand, veral dié wat vir belangrike eksamens voorberei.”

Die 14 geraakte skole sluit vier sekondêre, agt primêre en drie plaaslike skole in, wat hoofsaaklik plattelandse en township-gemeenskappe in die Lejweleputswa-distrik bedien.

Honderde betogers, insluitend tientalle kinders, het verlede Maandag na die munisipale kantoor in Bothaville opgeruk om teen swak dienslewering te protesteer, wat volgens hulle die gevolg van korrupsie is.

Winkels geplunder

Wat egter as ’n vreedsame optog begin het, het vinnig handuit geruk toe winkels geplunder en verskeie voertuie met klippe beskadig is.

Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder, sê: “Sover ek weet, het alles goed verloop tydens die vergadering, en die betogers het nie die dorp binnegekom nie.”

OFM Nuus/Zenande Mpame cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.