On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

LUR besoek Vrystaatse dorp ná betogings

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 09:47 Sun, 02 Mar 2025

LUR besoek Vrystaatse dorp ná betogings | News Article
Betogers in Bothaville is hier besig om te plunder. Foto verskaf

Die Vrystaatse LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) lei Sondag (2/3) ’n afvaardiging amptenare na die Nala-munisipaliteit om bystand te verleen ná onlangse betogings en die sluiting van die dorp.

Saki Mokoena, LUR vir Cogta, lei om 10:00 die vergadering in die Nala-munisipaliteit se raadsaal op Bothaville om ingrypings te bespreek en te implementeer ná die onlangse stilstand weens betogings. Plaaslike skole en ondernemings was van Maandag (24/2) tot Donderdag gesluit weens die onrus.

Die stilstand is geïnisieer deur bekommerde inwoners van Nala wat die verwydering van die uitvoerende burgemeester, munisipale bestuurder en hoof finansiële beampte eis, asook die beëindiging van ’n spesifieke maatskappy se sekuriteitskontrak.

Kinders op Bothaville was glo ook deel van die betogings. Foto verskaf

Honderde betogers, onder wie tientalle kinders, het Maandag opgeruk na die munisipale kantoor op Bothaville om te betoog teen swak dienslewering, volgens die betogers die gevolg van korrupsie.

Wat egter as ’n vreedsame betoging begin het, het vinnig handuit geruk toe van die betogers winkels geplunder en voertuie met klippe bestook het.

Beoog teen korrupsie

Tussen 300 tot 400 betogers het vanaf Kgotsong opgeruk om teen die gevolge van beweerde korrupsie te betoog, het Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier-streek, vroeër gesê. “Talle winkels is tydens die onrus geplunder, en verskeie voertuie is deur klippe beskadig.

“Die skade aan die dorp sou veel erger gewees het as die AfriForum-buurtwag en Vrystaat Landelike Veiligheid nie vinnig opgetree het om die situasie te beheer nie.”


Hulle het Cogta ook aangemoedig om op Artikel 106 van die Munisipale Stelselswet van 2000 beroep te doen.

Vroeër die week het Mokoena ’n span van die departement gestuur om verskeie verteenwoordigers van belanghebbendes te ontmoet en met hulle in gesprek te tree. As gevolg van hierdie verbintenisse is die sluiting tydelik opgeskort, wat leerders toegelaat het om terug te keer skool toe en besighede om te heropen, op voorwaarde dat die LUR die gebied sou besoek.

Die situasie bly wisselvallig, en dit is van kardinale belang vir die departement om maatreëls in werking te stel om die munisipaliteit te stabiliseer.

OFM Nuus cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.