Central SA
Jong Postmasburger se liggaam gevind ná vermoedelike verdrinking─── CHARNÉ VAN DER MERWE 14:05 Tue, 25 Feb 2025

Die gemeenskap van Postmasburg vra die munisipaliteit en mynmaatskappye moet meer doen om hul kinders te beveilig nadat die liggaam van ’n jong man, wat vermoedelik verdrink het, ná twee dae gevind is.
Postmasburg-polisie stel ondersoek in nadat ’n 18-jarige se liggaam Dinsdag (25/2) omstreeks 06:30 in die dam gevind is, sê lt.kol. Sergio Kock, polisiewoordvoerder. “Die oorledene, wat saam met ’n groep vriende by die dam was, het na bewering Sondagmiddag drieuur se kant gaan swem en vermoedelik verdrink.”
Die Kolomela-myn het met die soektog gehelp, vertel Kock. “Die myn het sy pompe aangebied om die watervlakke in die dam te help verlaag.”
Johannes Sekgoro, ’n familielid van die oorledene, het sy gemengde emosies gedeel toe hy die nuus gehoor het. “Ek voel vertroos deur die ontdekking van die liggaam, want ons was gestres en ek kon nie slaap nie,” sê hy aan Kalahari Memorandum Digital.
“Daar is niks so erg soos die onsekerheid waardeur julle die afgelope paar dae moes gaan, maar ook daarin het die Heiland julle gedra en krag gegee,” skryf die Facebook-gebruiker Hendrina van der Byl.
“Hy sal julle enduit vat, want Hy is getrou aan sy beloftes oor ons,” sê sy en voeg by die mooi samewerking tussen die gemeenskap en myn “gaan nie ongesiens by die Here verby nie”.
Die Facebook-gebruiker Alfred Masiane wil intussen weet hoe Tsantsabane-munisipaliteit beplan om gevaarlike gebiede naby die gemeenskap te beveilig, omdat dit nie eerste verdrinking is nie.
LEES OOK: Body found at Postmasburg reservoir not yet identified
“Ons almal weet dis elkeen se verantwoordelikheid om vir sy eie kinders se veiligheid te sorg, maar kinders is kinders en hulle sal altyd op sulke plekke gaan swem,” meen Masiane. “Dis die munisipaliteit en ander instellings wat sake rondom Postmasburg doen, se verantwoordelikheid om sulke gebiede te beveilig en te sorg dat sulke dinge nie weer gebeur nie.”
Enigiemand met inligting oor die voorval word versoek om speurkonst. Thediso Mokgosi by 082 302 0391 te nader.
In September 2022 het die Tsantsabane onderneem om met plaaslike myne en die departement van minerale hulpbronne te beraadslaag nadat Crostolone Madebe (9) en haar boetjie Christopher (8) verdrink het toe hulle in ’n steengroef by ’n uitgediende myn geswem het.
SABC News het berig die kinders kon blykbaar toegang tot die myn verkry omdat dit nie omhein is nie.
Waterveiligheidswenke om verdrinkings te voorkom:
- Moenie swem in gebiede waar die stroom sterk is nie.
- Moet nooit swem terwyl jy onder die invloed van alkohol of dwelms is nie.
- Wees altyd op die uitkyk vir waarskuwingstekens of vlae wat gevaarlike swemtoestande aandui.
- Moenie gaan swem ná ’n groot maaltyd nie, aangesien dit die risiko van krampe verhoog.
- Moenie in vlak water duik nie.
- Moet nooit jong kinders sonder toesig naby water los nie en moenie toelaat dat een kind verantwoordelik is vir ’n ander nie.
- Ken jou perke – moenie verder swem of jou asem langer ophou as waartoe jy in staat is nie.
- Dra ’n reddingsbaadjie as jy nie kan swem nie, óf wanneer jy op ’n boot is.
- Moet nooit swem tydens storms of wanneer daar ’n sterk wind is nie.
- Moenie in waterkanale of riviere spring om ’n vriend of geliefde te red nie.
- Rapporteer kinders wat in kanale of riviere swem by jou naaste polisiekantoor of bel Stop Misdaad by 08600 10111.
OFM Nuus mvh