Central SA
Yorkie Nutella veilig tuis in Klerksdorp ná nagmerrie-week─── MORNÉ VAN ROOYEN 15:56 Thu, 13 Feb 2025

Die eienaar van ’n hondjie van Klerksdorp wat ’n week lank weg was, sê sy het belowe om mooi na hom te kyk toe sy hom drie jaar gelede kry – en kom wat wil, sy gaan nie dié belofte verbreek nie.
Sonja en Willem Vos het Nutella, hul opreggeteelde yorkshireterriër, Woensdag (12/2) teruggekry ná ’n spanningsvolle week van min slaap en baie soek, nie net in hul eie woonbuurt, Wilkeville, nie, maar ook in La Hoff, Wilkoppies, Elandsheuwel, Doringkruin, Flimieda, Elandia, Songloed en oral rondom.
Sy en Willem was verlede Donderdag by die werk, toe sy omstreeks 14:00 sien ’n storm trek oor na hulle kant toe. “Dit het begin hael en die donderweer het erg begin slaan. Dit was een van die ergste storms wat ons nog gehad het in die (drie jaar) wat ons Nutella het.”
Nutella op sy eienaar Willem Vos se skoot. Hy het wonde opgedoen en was maer en verward. Foto verskaf
Toe Willem 16:30 huis toe gaan, bel hy met die tyding: Nutella het homself deur ’n klein gaatjie gewurm en uit hul erf gekom. Gelukkig het hulle drie ander yorkies, Miggie, Snippie en Charcoal, nie Nutella se voorbeeld gevolg nie.
Sonja en Willem het dadelik plasings op Facebook begin maak en die aand in die reën na hom gesoek. “Vrydagoggend, toe het ons hom weer gaan soek. Vrydag toe begin dit weer te reën. Toe’s ons huis toe, toe begin ons pamflette te print.”
Hulle het elke oggend, middag en aand op Facebook geplaas en ’n beloning aangebied om hom terug te kry. “Ons het begin rondloop en begin soek na hom en geskree, en toe het die mense na ons toe begin terugkom en gesê hulle het hom gesien daai kant toe hardloop, dan in die straat af …
Nutella (links) en sy drie huismaats, kort voor sy riller-ervaring: Miggie, Snippie en Charcoal. Foto verskaf
“Maar hy wou nie na mense toe gaan nie; hy’s verskriklik bang en baie fyn gebou. Hy’s nogals erg ma- en pa-vas,” vertel Sonja.
Saterdag moes sy by die werk wees, maar Willem, wat af was, het die hele Saterdag saam met hul kinders, Anthony (12) en Amoret (9), in hul omgewing gesoek. “Hy’t gaan kyk by die plekke waar die mense gesê het hulle het vir Nutella gesien, maar ons het hom ook nie gekry nie.”
Die aand het hulle mense gaan help by ’n huis wat weens ’n kortsluiting afgebrand het en daarna tot 03:00 die volgende oggend gesoek. Tussendeur het hulle aanhou plaas op Facebook op al die tientalle groepe waarop hulle is en weer pamflette uitgedeel.
Sondag het hulle uitgery na al die velde in die omgewing, waarna professionele snuffelhonde kom help soek het, maar van al die reën was sy spore weggewas en kon hulle ook nie sy reuk kry nie, vertel Sonja.
“Maandag was ek en my man af. Ons het die kar by die huis gelos, want ons ry ontsettend baie petrol die hele tyd uit. Ons het die kinders skool toe gevat en ons het begin loop in ander areas.”
Teen Dinsdag het hulle die plaaslike koerant genader om ’n advertensie te plaas, maar niemand het Nutella meer gesien nie. “Die plekke waar hulle sê hulle het hom gesien – ons gaan die hele tyd soontoe, ons gaan sit sy kos neer, sy komberse, sy jassies, alles, en as ons gaan kyk is Nutella net nie daar nie.”
Nutella eindelik op pad huis toe ná ’n week aan die hardloop. Foto verskaf
Woensdagoggend 05:50 bel die eienaar van ’n plaas ’n hele ent buite die stad van hulle huis af in ’n toestand om te vra of Sonja al aangetrek is, want haar plaaswerker was vroeër die oggend ontstoke omdat ’n hondjie, wat soos Nutella lyk, sy pap op sy stoep kom vreet het.
Sy en Willem is dadelik na die plaas toe, maar dit was nie so maklik om hul geliefde brakkie op te spoor nie, want hy het gedurig bly rondhardloop. “Ons het hom bly roep, kos uitgesit, maar hy wou nie uitkom nie.”
Ongelukkig moes hulle later werk toe gaan. Intussen het die plaaswerker heeloggend sy oë oopgehou. “’n Groep mense het ons laat weet, hulle sal kom help soek, want daai tannie-hulle se plaas is ontsettend groot.
’My baby daai’
“So ons weet nie waar kan hy wegkruip nie; hy’s bang. Dis ses dae wat hy nie om ons is nie. Hy’s te gewoond aan ons, ons weet nie wat gaan aan nie.”
Die middag 16:00 is hulle vort by die werk, en nadat hulle die kinders by die skool opgelaai het, is hulle reguit plaas toe. “Daar’s ’n paar afgebreekte huisies wat die plaaswerker nou en dan gaan skoonmaak.
“Hy’t kos daar gaan sit en komberse laat hy vir Nutella probeer vang, maar Nutella wil nie soontoe gaan nie. En toe my man so om hulle lang bome ry en die kar by die anderkant van die bome gaan parkeer, toe spring Nutella agter ’n boom uit.”
Kort nadat Sonja en Nutella herenig is. Foto verskaf
Hy het “verskriklik baie sleg” gelyk, vertel Sonja. “Sy voetjies is gebrand, sy een voet is oopgesny, hy’s baie maer”, maar sy het dadelik geweet: “Dis my baby daai!”
Die trane het oor hulle wange gerol ná al die slapelose nagte en ’n week van onsekerheid. “Ons sit met vier van hulle, maar hy was die eerste enetjie wat ons gekry het en hy ry saam met ons orals heen.
“Hy eet wat ons eet in die oggende weet hy, hy kry sy treats voor ons koffie kry. So ons hele roetine was net deurmekaar. Ons kan nie konsentreer by die werk nie, die kinders wil nie skool toe nie; hulle wil nie huiswerk doen nie.
Belofte gehou
“Ons is die hele tyd net in die strate op en af gewees en hom gesoek. Maar ek het hom drie jaar terug belowe ons sal mooi na hom kyk en ek gaan nie daai belofte aan hom breek nie.”
Nutella was intussen by die veearts en hondesalon. Hy is skrikkerig tydens swaer weer en kry nog nagmerries, maar sy mense is net dankbaar hy is veilig tuis.