Central SA
Vissies bedank gemeenskap vir ondersteuning ná drie leerders sterf─── CHARNÉ VAN DER MERWE 13:38 Fri, 31 Jan 2025
Die skoolhoof van die Bloemfonteinse skool, wat verlede week drie van sy leerlinge in ’n botsing verloor het, bedank die gemeenskap hartlik vir hul oorweldigende ondersteuning.
“In hierdie moeilike tye, wanneer so ’n uitdagende tydperk ons as skool en gemeenskap in die gesig staar, wil ons graag ons opregte dank uitspreek vir die ongelooflike ondersteuning wat ons ontvang het,” sê Riekie Venter, hoof van die Primêre Skool Dr. C.F. Visser in Estoire.
Riekie Venter, hoof van Primêre Skool Dr. C.F. Visser, lê blomme ná die gedenkdiens. Foto Charne van der Merwe
Die boeties Ayden (8) en Ryan (6) Smit en hul niggie Leané van Papendorp (8) het hul lewe in ’n botsing verloor terwyl hulle Vrydag (24/1) op pad was skool toe. Die botsing het op die kruising van die N8 en Krugerlaan naby Aljo’s Superspar gebeur.
Herman van Papendorp en Adri Jonck met die foto van hul dogter, Leané. Foto: Charne van der Merwe
Leané se ma, Adri Jonck, wat die Chevrolet Spark bestuur het met die vier kinders daarin, het ernstige beserings opgedoen en is in die Pelonomi-hospitaal opgeneem. Sy is reeds op die dag van die ongeluk ontslaan.
’n Toyota Hilux, wat op die N8 met ’n swaar vrag staal op ’n sleepwa onderweg was, het aan die bestuurderskant van die Spark daarin vasgery. Die polisie ondersoek nog die omstandighede van die ongeluk. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.
Tennique Joubert, wat ook die ongeluk oorleef het, het Donderdag ná vyf dae haar oë oopgemaak nadat sy Dinsdag van die ondersteuningstelsel gehaal is.
“Dit is met groot vreugde dat ons kan deel dat Tennique daaglikse vordering toon en reeds op besoekers begin reageer het,” sê Venter. “Die pad vorentoe is steeds vir haar ’n uitdagende een, maar ons weet dat sy met die liefde, gebede en ondersteuning van almal om haar sal aanhou herstel.”
Tennique Joubert. Foto: Facebook/Primêre Skool Dr. C.F. Visser
Venter betuig sy innige waardering vir die landwye ondersteuning wat van skole, ondernemings, instellings, ouers, gemeenskappe, die departement van onderwys, Fedsas en belangstellendes ingestroom het. “Die woorde van bemoediging, simpatie en die hande wat uitgesteek is om te help het ons bemagtig om sterker te staan in die aangesig van hierdie groot hartseer.”
Sy het ook almal bedank wat op enige manier bygedra het, hetsy deur gebede, boodskappe van hoop of praktiese hulp. “Ons is oorweldig deur die geskenke in die vorm van blomme, geld en dienste wat ons gedurende hierdie amper (onwerklike) tyd ontvang het. Elke bydrae het ’n beduidende verskil gemaak, en ons is werklik verstom.”
Die skool het Dinsdag ’n gedenkdiens vir die Smit-boeties en Leané gehou. Hul roudiens vind Saterdag om 11:00 in die NG Kerk Bloemfontein-Noord (Klipkerk) plaas, waar al drie veras sal word.