On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Mark
Listen Live Streams

Central SA

Bloemfonteinse pa begrawe seuns dag ná sy verjaardag

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 13:08 Fri, 31 Jan 2025

Bloemfonteinse pa begrawe seuns dag ná sy verjaardag | News Article
Yolande en Martin Smit het albei hul seuns, Ayden (links) en Ryan, verloor. Foto: Facebook/Martin Smit

Wat veronderstel was om die viering van ’n mylpaal te wees, het ’n hartverskeurende verjaardag geword vir ’n Bloemfonteinse pa, wat nou gereed maak om albei sy seuns Saterdag (1/1) te begrawe.

Martin Smit, wat Vrydag 40 word, neem ’n dag later afskeid van sy twee seuns, Ayden (8) en Ryan (6). Die boeties is ’n week gelede dood ná ’n botsing op die kruising van die N8 en Krugerlaan, naby Aljo’s Superspar, oos van Bloemfontein. 

Benewens die Smit-broers het hul niggie Leané van Papendorp (8) ook haar lewe in die ongeluk verloor. Adri Jonck, Leané se ma en die bestuurder van die Chevrolet Spark waarin hulle omstreeks 07:00 op pad skool toe was, het ernstige beserings opgedoen, maar is dieselfde dag uit die Pelonomi-hospitaal ontslaan.

Jonck is die suster van Yolandé Smit, die seuns se ma.

Leané van Papendorf se ma, Adri Jonck, is in die hospitaal opgeneem ná die ongeluk waarin haar dogter gesterf het. Foto: Facebook/Darius Nell

’n Toyota Hilux het aan die bestuurderskant van die Spark daarin vasgery. Ryan en Leané is op slag dood, terwyl Ayden later in die Busamed-hospitaal dood verklaar is nadat dokters alles in die stryd gewerp het om sy lewe te red.

Tennique Joubert (6), die enigste van die vier jong insittendes wat die ongeluk oorleef het, was vyf dae in ’n koma terwyl sy onder verdowing gehou is weens breinbloeding. Nadat sy Saterdag ’n operasie in die Mediclinic ondergaan het, waartydens dokters haar milt verwyder het, is Tennique na Pelonomi oorgeplaas om daar aan te sterk.

Die dokters het haar Dinsdag (28/1) van die ondersteuningstelsel gehaal sodat sy self wakker kon word. Haar oupa Cornelius Barry het vroeër gesê sy kleindogter het Woensdag haar oë vir sowat 15 sekondes oopgemaak, haar lippe beweeg asof sy probeer praat en toe weer haar oë toegemaak. 

Enigste oorlewende kind van N8-botsing maak haar oë oop | News Article

Tennique Joubert. Foto: Facebook/Primêre Skool Dr. C.F. Visser

“My seun, Tennique se pa, was by haar toe sy wakker word en het na haar ouma geroep.” Tennique is tans in die sorg van haar oupa en haar ouma Madelein Barry.

Volgens Barry het ’n plastiese chirurg Woensdag gebel en aangebied om te help met die besering wat Tennique in die ongeluk opgedoen het.

Skyfievertoning geskep

’n Gedenkdiens vir die Smit-boeties en Leané is Dinsdag gehou by die Primêre Skool Dr. C.F. Visser in Estoire waar al drie kinders leerders was. Hul begrafnisdiens vind Saterdag om 11:00 in die NG Kerk Bloemfontein-Noord (Klipkerk) plaas, waarna hulle veras sal word.

Smit, bedryfsbestuurder van die vakansieoord-en-konferensiesentrum Maselspoort, het vroeër gesê hy het ’n skyfievertoning geskep met die drie kinders, wat van kleins af onafskeidbaar was. “Hulle het mekaar se verjaarsdagpartytjies bygewoon, saam skoolgegaan en saam gewoon, wat die verlies nog meer hartverskeurend maak.”

OFM Nuus/Charne van der Merwe mc

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.