On Now
Weekdays 23:00 - 23:59
Overnight Oscar
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

Central SA

Enigste oorlewende kind van N8-botsing maak haar oë oop

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:40 Thu, 30 Jan 2025

Enigste oorlewende kind van N8-botsing maak haar oë oop | News Article
Tennique Joubert. Foto: Facebook/Primêre Skool Dr. C.F. Visser

Die enigste oorlewende kind van die botsing buite Bloemfontein wat drie jong lewens geëis het, het ná vyf dae in ’n koma haar oë oopgemaak.

Tennique Joubert (6) ’n leerder aan die Primêre Skool Dr. C.F. Visser, was sedert Vrydag onder sedasie weens bloeding op die brein. Sy het Saterdag ’n operasie in die Mediclinic ondergaan, waar dokters haar milt verwyder het. Sy is oorgeplaas na die Pelonomi-hospitaal om aan te sterk. 

Haar oupa Cornelius Barry vertel sy kleindogter het haar oë vir sowat 15 sekondes oopgemaak, haar lippe beweeg asof sy wou praat en toe weer haar oë oopgemaak. “My seun, Tennique se pa, was by haar toe sy weer wakker word en het na haar ouma geroep.”

Tennique is in die sorg van haar oupa en haar ouma Madelein Barry.

Herman van Papendorp en Adri Jonck met die foto van hul dogter, Leané. Foto: Charné van der Merwe

Die ongeluk het die lewens van twee broers, Ryan (6) en Ayden (8) Smit, saam met hul niggie Leané van Papendorp (6) geëis. Leané se ma, Adri Jonck, het die vier kinders die oggend skool toe geneem toe ’n Hilux-bakkie in haar Chevrolet Spark vasgery het.

Na bewering het die bakkiebestuurder ’n rooi verkeerslig verontagsaam en in die bestuurderskant van die Spark vasgery.

Barry sê hy het Woensdag (30/1) ’n oproep ontvang van ’n plastiese chirurg wat aangebied het om te help met die besering wat Tennique in die ongeluk opgedoen het.

Yolandé en Martin Smit het albei hul seuns, Ayden (links) en Ryan, verloor. Foto: Facebook/Martin Smit

Tennique is Dinsdag van alle masjiene afgehaal, omdat dokters wou hê sy moet natuurlik wakker word. Op daardie tydstip was daar geen tekens van verdere breinbloeding nie, al was daar ’n mate van swelling. Sy was net aan ’n ventilator gekoppel.

’n Emosionele Barry sê die feit dat Tennique haar oë so gou oopgemaak het nadat die masjiene verwyder is, is bemoedigend. “Ek glo sy sal ten volle herstel. Die dokters is baie optimisties, maar hulle sal haar oor die volgende paar dae fyn dophou.” Hy vertel Tennique se ouma is ongelooflik bly oor haar kleindogter se vordering en die familie bly hoopvol.

Die skool het Dinsdag ’n gedenkdiens vir die Smit-boeties en Leané gehou. Hul roudiens word Saterdag om 11:00 in die NG Kerk Bloemfontein-Noord (Klipkerk) gehou. Al drie sal veras word.

OFM Nuus/Charne van der Merwe mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.