Central SA
Maats kry berading ná dood van drie Bloemfonteinse leerlinge─── CHARNÉ VAN DER MERWE 11:33 Mon, 27 Jan 2025
Die leerders van ’n Bloemfonteinse skool wat drie leerlinge in ’n motorbotsing verloor het, ontvang berading.
Ryan Smit (6) en sy niggie Leané van Papendorp (8) is Vrydag (23/1) op slag dood op pad skool toe.
Die Chevrolet Spark waarin hulle onderweg was, was op die kruising van die N8 en Krugerlaan by Aljo’s Superspar in ’n botsing betrokke met ’n Toyota Hilux. Ryan se ouboet, Ayden (8), is met ernstige beserings na die Busamed-hospitaal gehaas. Sy hart het twee keer gaan staan voordat hy dood verklaar is.
Adri Jonck, Leané se ma en die bestuurder van die Spark, het ernstige beserings opgedoen en is na die Pelonomi-hospitaal geneem. Volgens Darius Nell, ’n familielid, sterk sy onder die omstandighede goed aan.
Yolandé en Martin Smit het albei hul seuns, Ayden (links) en Ryan, verloor. Foto: Facebook/Martin Smit
Die vierde leerder van die Primêre Skool Dr. C.F. Visser in Estoire, Tennique Joubert, is steeds in ’n koma in die trauma-waakeenheid van Pelonomi nadat sy Vrydagaand (23/1) ’n operasie ondergaan het.
Skoolhoof Riekie Venter sê Joubert se milt is ernstig beseer en sy het ook breinbloeding in die ongeluk opgedoen.
“Dokters beplan glo om Tennique hierdie week van die masjiene af te haal om haar liggaam se reaksie te monitor en die omvang van die bloeding te bepaal. Haar familie bly hoopvol.”
Tennique Joubert. Foto: Facebook/Dr CF Visser Primêre Skool
Na bewering het die bestuurder van die Toyota Hilux ’n rooi verkeerslig verontagsaam.
Sers. Mahomela Kareli, polisiewoordvoerder, sê ’n saak van strafbare manslag is by die Navalsig-polisiekantoor geopen, en ondersoeke na die oorsaak van die ongeluk duur voort. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.
’n Gedenkdiens word vandeesweek vir die drie ontslape Vissies-leerlinge beplan, maar geen begrafnisreëlings is nog getref nie.