Central SA
Coligny juig oor nuwe waterpompe, Lichtenburg nog droëbek─── 11:55 Fri, 10 Jan 2025
Enkele ure nadat inwoners van Coligny en Tlabologang in Noordwes saamgestaan en vreedsaam betoog het oor die waterkrisis in hul munisipaliteit, is die deposito vir nuwe waterdrukpompe betaal.
Terwyl Vrydagoggend (10/1) douvoordag met die installasie van dié drukpompe in Coligny begin is, het Lichtenburgers begin om paaie uit pure frustrasie te versper. Albei dorpe is in Ditsobotla se munisipale gebied.
“Lichtenburg is al langer as (Coligny) sonder water en elektrisiteit,” sê Fanus Schutte, inwoner van Coligny en stigter van die misdaadbestrydingsgroep Crime Buster. Hy was een van die organiseerders van Dinsdag se optrede toe die T-aansluiting van die N14 en R503 met voertuie geblokkeer is, wat hy agterna as “’n groot sukses” bestempel het.
“Dit was ’n suksesvolle dag. Dit was ’n vreedsame optog. Die deposito is betaal; ons behoort teen die naweek ons water te hê,” het hy Dinsdag aan OFM Nuus gesê. “Ons doelwit was ook om aan Tlabologang se inwoners te wys dat ons kan saamstaan en wil saamstaan.”
Ons behoort teen die naweek water te hê, juig hoopvolle inwoners. Foto verskaf
Die Ngaka Modiri Molema-distriksmunisipaliteit het Dinsdag ’n deposito van R300 000 vir nuwe drukpompe betaal. Vrydag is met die installasie begin.
Noordwes-polisiebeamptes het intussen herhaaldelike pogings deur inwoners om die paaie tussen Lichtenburg, Mahikeng en Biesiesvlei te versper, gefnuik deur motorbande te verwyder.
“Die polisie wys inwoners daarop dat die blokkering van ’n pad onaanvaarbaar en onwettig is. Die Wet op die Regulering van Byeenkomste laat vreedsame betogings toe wat nie ander mense se regte skend nie,” waarsku ’n polisiewoordvoerder.
Gefrustreerde inwoners van Lichtenburg sit al sedert Desember sonder elektrisiteit, en dus ook sonder kraanwater. Kragtoevoer word met tye vir ? paar uur herstel, waarna dit weer onderbreek word.
Woedende inwoners het Woensdagaand (8/10) die in- en uitgangspunte na Lichtenburg met brandende bande, klippe en rommel versper. Die polisie het ingetree en die situasie ontlont.
“Dit is die enigste taal wat die regering verstaan,” het ? inwoner, Thabang Moncho, aan TimesLive gesê. “Hoe kan ’n mens op ’n dorp woon en soveel weke lank sonder elektrisiteit moet klaarkom, en die munisipaliteit word nie daardeur geraak nie?”
‘Uit ons beursies rol die note’
Die wanfunksionele Ditsobotla het in 2022 gebuk gegaan onder twee burgemeesters, twee speakers en twee munisipale bestuurders van strydende ANC-faksies. Clover het in 2021 die land se grootste kaasfabriek op die dorp gesluit weens “voortdurende swak dienslewering”.
Hanneli Lombard, inwoner van Lichtenburg, het op Facebook met dié ode hulde aan haar tuisdorp gebring:
“Môre is dag 14 sonder elektrisiteit. Die nasaat van onbevoegdheid eggo in die kragopwekkers. Dawerende desibels in my moeë ore.
“Die groen wilgers in die vlei, van Lichtenburg, vaal en verwese. De la Rey se perd het geen gras meer om te vreet, stikkend aan ’n vrot papier. So runnik hy in die skadu van verbrande hout, en verwoeste vensters.
De la Rey se perd … stikkend aan ’n vrot papier. Foto: Businesstech
“Seg ? ou NP-lid op TV: ‘Ons het net vooruitgegaan.’ Uit ons beursies rol die note, nóg petrol, nóg ? sonpaneel.
“Nog ’n gapende wond in ’n motorband. Nóg ? oorvol asblik. Nóg ’n stikdonker nag wat brandende bande verlig. En, waar is die teer nou weer, Meneer?
“Rus sag, liewe Lichtenburg.”