Central SA
Parys-boer Vrydag gegroet ná bye sy lewe eis─── 13:50 Wed, 01 Jan 2025
’n Boer van Buffelshoek, naby die grens tussen Noordwes en die Vrystaat, word Vrydag (3/1) ter ruste gelê op sy plaas, Brakfontein, waar ’n swerm bye hom noodlottig aangeval het.
Die bye het Sarel van der Watt (64) Maandagmiddag (30/12) oorval terwyl hy oudergewoonte dié tyd van die jaar op sy plaas geskraap het, berig Parys Gazette.
Sy allergie vir bye en perdebye het met die jare ál erger geword, sê sy dogter Annika, en dié keer was die skok vir sy liggaam noodlottig.
Van der Watt was by uitstek ’n gemeenskapsmens. Sy broer en suster was albei in die polisiediens, en misdaadbestryding het hom ook na aan die hart gelê.
Sarel van der Watt het afgetree op sy familieplaas, Brakfontein, aan die R500 tussen Parys en Fochville. Skermskoot: Google Maps
“Geen opoffering of uitdaging was vir hom ooit te groot nie – ook nie wanneer daar ure aaneen teen verwoestende brande baklei moes word nie. Hy het sy omgee vir mense uitgeleef waar hy kon,” skryf Parys Gazette.
Hy is gebore in die distrik Ottosdal en het op die destydse Naboomspruit gematrikuleer. Ná skool het hy hom as elektrisiën bekwaam, maar hy was van jongs af lief vir boer. Ná sy diensplig vestig hy hom op Brakfontein, die Van der Watts se familieplaas, waar hy ook ’n onderneming begin het.
Van der Watt en sy vrou, Helen, het self die plaashuis gebou. Hy is lank genoeg gespaar om sy droom te bewaarheid om op Brakfontein, sowat 10 km noordoos van Parys aan die pad na Fochville, af te tree.
Vol lewe gehad
“Al is die hartseer groot, weet ons dat hy met baie vrede en geluk weg is,” sê sy kinders. “Hy het ’n paar keer die jaar gesê as sy tyd kom, sal hy gereed wees, want hy het ’n vol lewe gehad en bereik wat hy wou. Hy was so bitter trots op ons almal en wat ons bereik het.”
Van der Watt, wat oorleef word deur sy vrou, kinders en kleinkinders, se gedenkdiens word Vrydag (3/1) om 10:00 gehou in die Hervormde kerk, h.v. Paulsen- en Loopstraat, Parys. Die teraardebestelling volg daarna op Brakfontein. Die afdraai is links op die Fochville-pad, net ná The Doors.
OFM Nuus mvh