On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret and John
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Central SA

Diamantveld se nuwe hoof glo in tradisie, vernuwing

───   KAREN VAN DER BERG 10:39 Mon, 09 Dec 2024

Diamantveld se nuwe hoof glo in tradisie, vernuwing | News Article
François de Kock is as nuwe skoolhoof van Hoërskool Diamantveld in Kimberley aangestel.

Sy diep betrokkenheid by akademiese en sportontwikkeling is die perfekte kombinasie om die Hoërskool Diamantveld na nuwe hoogtes te lei.

So sê François de Kock, wat in Januarie die leisels oorneem by dié Kimberleyse hoërskool.

De Kock was die afgelope ses jaar skoolhoof van die Hoërskool Kempton Park op Gauteng se Oos-Rand. Voorheen was hy agtereenvolgens verbonde aan drie groot Pretoriase skole: die Afrikaanse Hoër Seunskool en die Hoërskole Waterkloof en Garsfontein.

“Dit is ’n opwindende nuwe hoofstuk wat voorlê. Die suksesverhaal van die skool is ’n groot trekpleister gewees. Maar meer as dit, ook die ryk geskiedenis van Kimberley en die rol wat die stad in Suid-Afrika se geskiedenis gespeel het.”

François de Kock. Foto verskaf

Hy sê die indruk wat hy van die mense hier gekry het, is dat hulle “hartsmense” is. Hy het al met die skool te doen gekry met die jaarlikse Wildeklawer-toernooi wat in die Diamantstad aangebied word. Hy het ook self as krieketspeler hier in Griekwaland-Wes uitgedraf.

“Ek glo in dit wat die skoolgemeenskap hier reeds uitleef, naamlik die dissipline en trots. ’n Mens moet geanker wees in iets – en hulle is. My plan is om voort te bou om die geskiedenis en die begrip daarvan te koester. Ek is nie hier om dinge te verander nie.”

De Kock sê hy glo wel aan afstofwerk en vernuwing. “’n Mens moet by die tye aanpas.”

François de Kock en sy dogter, Leanke. Foto verskaf

Sy grootste droom vir die skool is dat wanneer mense terugkyk, hulle sal sê die skool het toepaslik gebly en aan die verwagtinge van elke leerling en die gemeenskap voldoen. Hy wil dit wat daar is, net verbeter.

“Ek sien ook uit daarna om as mens te bly groei. Ek wil ’n verskil in mense se lewe hier maak en ek is oop daarvoor dat hulle ’n verskil in myne gaan maak.”

Wanneer mense regtig eerlik is, sal hulle erken dat almal van ’n wenkultuur hou. “Veral in ons land; daarom bly dit ook deel van my droom en visie om aan die wenkultuur wat reeds bestaan, te bou.”

‘Senuweeagtig opgewonde’

Hy sê hy lewe met die woorde van Albert Einstein: “Try not to become a man of success. Rather become a man of value.”

Du Toit het twee kinders, Anrich (19) en Leanke (22), wat albei studeer. Hy is geskei, maar hy en sy lewensmaat beplan om binnekort te trou.

Die skool het in ’n verklaring gesê hulle sien uit na hierdie nuwe hoofstuk saam met hom en weet dat De Kock die visie van die skool na nuwe hoogtes sal voer. 

“Ek is senuweeagtig opgewonde oor die nuwe uitdaging.”

OFM Nuus/Karen van der Berg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.