On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Central SA

Fratsongeluk: Bloemfonteinse leerder onthou as ‘sonskynkind’

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:23 Wed, 13 Nov 2024

Fratsongeluk: Bloemfonteinse leerder onthou as ‘sonskynkind’ | News Article
Foto verskaf

Begrafnisreëlings moet nog getref word ná ’n voorval waarin ’n grafsteen op ’n Bloemfonteinse skoolmeisie geval het.

Langalethu Magoda, ’n gr. 3-leerder aan die Laerskool Eunice, het Sondag (10/11) haar lewe verloor, sê konst. Maselela Langa, polisiewoordvoerder. Sy het saam met familielede die Suidpark-begraafplaas in Bloemfontein besoek toe die fratsongeluk gebeur het. 

“Die grafsteen, wat na bewering op haar afgeval het, het ernstige beserings veroorsaak en sy is later in Mediclinic Bloemfontein dood,” sê Langa.

Die polisie het ’n geregtelike doodsondersoek begin en ondersoek nog hoe die voorval plaasgevind het. Hulle kan nog nie nadere besonderhede bekendmaak nie.

Laerskool Eunice het Maandag ’n buitelugdiens gehou om Langalethu se lewe te vier. Die skool beplan om later ook ’n gedenkdiens te hou.

Cindy Harris, skoolhoof, sê Langalethu se dood het die hele skoolgemeenskap diep geraak het en is ’n “groot skok” vir die skool. “Sy was ’n pragtige siel, vlymskerp, en iemand wie se lewe heeltemal te vroeg tot ’n einde gekom het.”


Harris vertel in ’n huldeblyk het Langalethu se klasmaats vir haar boodskappe geskryf en armbande met haar voorletters gemaak. “Langalethu beteken ‘sonskyn’.” Daarom was “sonskyn” die tema van die diens.

“Alles wat sy gedoen het, was net spesiaal. Ek sal haar altyd onthou as ’n selfversekerde, kreatiewe kind wat lief was vir drama en kuns,” vertel Harris, wat Langalethu beskryf as “’n vrolike, positiewe en goedhartige meisie, wat ’n merkwaardige persoonlikheid gehad het.

Sy sal onthou word as “’n wyse dogtertjie, wat ’n blywende indruk gemaak het op almal wat sy ontmoet het”.

OFM Nuus/Charné van der Merwe mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.