Central SA
Oudleerder van Grey Kollege wat op pad na reünie verongeluk, dan gegroet─── CHARNÉ VAN DER MERWE 14:45 Fri, 11 Oct 2024

Die oudleerder van ’n Bloemfonteinse seunskool wat op pad na sy 15-jaarreünie verongeluk het, word Dinsdag (15/10) gegroet.
Clayton Lauwrens (33) was Dinsdag (8/10) saam met sy hond, Diego, van Pretoria na Bloemfontein onderweg om die geselligheid by Grey Kollege by te woon toe hulle verongeluk het.
Die ongeluk het vroegoggend op die R710 tussen Welkom en Bultfontein plaasgevind, het kapt. Loraine Earle, provinsiale polisiewoordvoerder Woesndag (9/10) aan OFM Nuus gesê.
Dié naweek kom nege jaargroepe Grey-oudleerders in die Vrystaatse hoofstad bymekaar om hul reünies te vier. Die geleentheid begin Donderdag (10/10) met ’n gholfdag, gevolg deur verskeie aktiwiteite deur die loop van die naweek.
Die Grey-reüniegroep op Facebook het ook hul medelye met Lauwrens se famille en vriende betuig.
“Die polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag,” sê Earle. “Voorlopige bevindings wys geen ander partye was by die ongeluk betrokke nie.
“Vermoedelik het Lauwrens se voertuig gerol nadat hy beheer daaroor verloor het.”
Clayton Lauwrens. Foto: Facebook
Juandré Klopper, ’n vriend van die afgelope tien jaar, sê op Facebook hy sal hul goeie tye saam nooit vergeet nie.
“Ek het nie woorde nie. Dankie vir goeie tye, die slegte tye, die trane, die smiles, ons stupid sêgoed, ons liedjies. Tot ons mekaar weer sien.”
Lauwrens, wat die afgelope paar jaar ’n finansiële adviseur in Pretoria was, se gedenkdiens vind Dinsdag om 11:00 by Airbone, Tempe-lughawe in Bloemfontein plaas.