On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Phokwane-munisipaliteit maak aanstellings ondanks provinsiale voorskrifte

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:40 Wed, 11 Sep 2024

Phokwane-munisipaliteit maak aanstellings ondanks provinsiale voorskrifte | News Article
Die Phokwane-munisipaliteit. Foto: Facebook

“Die VF Plus dring daarop aan dat amptenare wat in munisipaliteite aangestel word aan die gespesifiseerde vereistes moet voldoen."

’n Munisipaliteit in die Noord-Kaap het twee nuwe aanstellings gemaak ten spyte van verskeie regskwessies en provinsiale voorskrifte oor sulke aanstellings.

Die Noord-Kaapse departement van samewerkende regering, menslike nedersettings en tradisionele sake (Coghsta) het verlede week op ’n raadsvergadering die voorskrifte en vereistes uitgelig aan die Phokwane-munisipaliteit wat Hartswater, Jan Kempdorp en Pampierstad bedien.

Dié voorskrifte is egter geïgnoreer, sê Rickus Te Baerts, VF Plus-raadslid. Coghsta-verteenwoordigers het die vergadering bygewoon om leiding te gee oor die wettigheid van aanstellings, spesifiek oor die nodige kwalifikasies en ervaring vir senior amptenare.

“Die speaker, Goitsemodimo Halter, het geen vrae van die raad aan die Coghsta-verteenwoordigers toegelaat nie. Nadat hy die Coghsta-verteenwoordigers stilgemaak het, is Naledi Charlie as die direkteur van gemeenskapsdienste en M.L. Taaibos as die direkteur van korporatiewe dienste aangestel.”

Rickus Te Baerts. Foto: Facebook

Te Baerts beweer Charlie het nie die vereiste kwalifikasies nie en hoewel Taaibos gekwalifiseer is, skiet sy ervaring tekort. “Die VF Plus dring daarop aan dat amptenare wat in munisipaliteite aangestel word aan die gespesifiseerde vereistes moet voldoen.”

Die VF Plus het die Noord-Kaapse regering versoek om in te gryp en hierdie aanstellings te hersien. Die party sê swak dienslewering en die aanstelling van individue in senior poste wat nie aan die verwagte standaarde voldoen nie hou direk met mekaar verband.

Die party het in Julie op ’n inspeksiebesoek bevind die munisipaliteit se stortingsterreine is in ’n swak toestand wat gesondheids- en veiligheidsrisiko’s vir inwoners inhou.

Stortingsterreine in die munisipaliteit is in ’n haglike toestand. Foto verskaf

“Die stortingsterrein op Hartswater is nie omhein nie en ’n informele nedersetting het oorkant die terrein ontwikkel,” het Estelle Davies, VF Plus-raadslid in Phokwane, destyds aan OFM Nuus  gesê.

“Op Pampierstad is mense gevind waar hulle deur die asblik vroetel vir herwinbare materiaal. Die vullisterrein op Jan Kempdorp word omring deur ’n informele nedersetting, met ’n bok- en varkplaas in die omgewing.”

OFM Nuus het die munisipaliteit om kommentaar genader.

OFM Nuus/Charne van der Merwe dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.