On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret and John
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Central SA

Delportshoop: Matrieks terug by skool ná maselsuitbreking

───   ZENANDE MPAME 12:45 Fri, 23 Aug 2024

Delportshoop: Matrieks terug by skool ná maselsuitbreking | News Article
Die Hoërskool Delportshoop. Foto: Facebook

“Enige persoon wat nie voldoende teen masels ingeënt is nie, kan masels van ’n besmette persoon opdoen.”

Die matrieks van Delportshoop is Vrydag (23/8) terug skool toe nadat vier skole op die Noord-Kaapse dorp Dinsdag summier gesluit is ná ’n maselsuitbreking. Die res van die leerders sal na verwagting Maandag terugkeer.

Die Noord-Kaapse gesondheidsdepartement het bevestig die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes het een positiewe geval bevestig deur ’n bloedmonster wat by die plaaslike kliniek geneem is.

Delportshoop se kliniek het van Dinsdag 13 Augustus tot die afgelope Maandag 32 kinders gesien wat ’n jeukende uitslag op hul gesig gehad het.

Vroeë simptome van masels duur gewoonlik vier tot sewe dae. Foto: iStock

“Die departement het onmiddellik sy distrikuitbrekingspan geaktiveer om kontakopsporing te doen. Vemoedelike gevalle is gevra om tuis te isoleer om verdere verspreiding te voorkom,” sê Lebogang Majaha, provinsiale gesondheidswoordvoerder.

“Die departement het Woensdag openbare gesondheidsopvoeding en -bewusmaking gedoen oor die simptome van masels om gemeenskapslede aan te moedig om waaksaam te wees en enige vermoedelike gevalle by hul naaste kliniek aan te meld.” 

Die Gekombineerde Skool Delportshoop, die Intermediêre Skool Delportshoop, die Laerskool Frances Mohapanele en die Hoërskool Dikgatlong is Dinsdag (20/8) gesluit. Die vier skole is Woensdag (21/8) ontsmet en leerders word aangemoedig om maskers te dra.

Masels is ’n hoogs aansteeklike virusinfeksie wat ernstige komplikasies kan veroorsaak. Foto: iStock

Simptome van masels begin gewoonlik tien tot 14 dae ná blootstelling aan die virus. ’n Veluitslag is die mees sigbare simptoom. Vroeë simptome duur gewoonlik vier tot sewe dae.

Hulle sluit in: 

  • loopneus;
  • hoes;
  • rooi en waterige oë; en
  • klein wit kolletjies aan die binnekant van die wange.

Komplikasies kan insluit:

  • blindheid;
  • enkefalitis (’n infeksie wat breinswelling en moontlik breinskade veroorsaak);
  • erge diarree en verwante dehidrasie;
  • oorinfeksies; en
  • ernstige asemhalingsprobleme insluitend longontsteking.

‘Departement versoek ouers om hul kinders in te ent’

Hul distriksreaksiepan ent mense in die omgewing van Delportshoop in om verdere verspreiding te beperk, sê Majaha. “Enigeen wat nie voldoende teen masels ingeënt is nie kan masels van ’n besmette persoon opdoen.”

Die departement versoek ouers en voogde om hul kinders in te ent en afsprake na te kom, behalwe as die kind op die dag van die afspraak siek is.

OFM Nuus/Zenande Mpame dg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.