On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret and John
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Central SA

Vier Noord-Kaapse skole gesluit weens masels-uitbreking

───   ZENANDE MPAME 05:30 Thu, 22 Aug 2024

Vier Noord-Kaapse skole gesluit weens masels-uitbreking | News Article
Vier Noord-Kaapse skole gesluit weens masels-uitbreking. Foto: iStock

“Ons doen ook ’n beroep op ouers om hul kinders noukeurig te monitor en by die huis te hou.”

Drie laerskole en een hoërskool is tot Vrydag (23/8) deur die departement van onderwys gesluit weens ’n uitbreking van masels.

Altesaam 130 gr. 4–6-leerders is geraak deur die uitbreking wat Dinsdag (20/8) versprei het.

As ’n voorsorgmaatreël is die Gekombineerde Skool Delportshoop, Intermediêre Skool Delportshoop, Laerskool Frances Mohapanele en Hoërskool Dikgatlong summier gesluit.

Vroeë simptome van masels duur gewoonlik vier tot sewe dae. Foto: iStock

“Die Noord-Kaapse departement van onderwys is bewus van die masels-uitbreking by die Gekombineerde Skool Delportshoop,” sê Geoffrey van der Merwe, provinsiale onderwyswoordvoerder.

“Ons het met die departement van gesondheid geskakel om die uitbreking van masels op Delportshoop te beperk, aangesien dit die ander skole op die dorp kan raak. Daarom het ons nog drie skole as veiligheidsmaatreël gesluit.”

‘Leerders word aangemoedig om maskers te dra’

Slegs gr. 12-leerders sal Vrydag terugkeer skool toe om hul voorbereidende eksamen te skryf, maar die res van die leerders sal Maandag (26/8) terugkeer, en die vier skole sal Woensdag (21/8) ontsmet word en leerders word aangemoedig om maskers te dra, het hy gesê.

Die departement van gesondheid het beplan om Woensdag ’n bewusmakingsveldtog in die geaffekteerde gebiede te hou en inenting teen masels sal Maandag gedoen word.

Aantal serummonsters getoets volgens NICD en positiwiteitskoers (%) in Suid-Afrika, week 40 van 2022 tot week 10 van 2023. Foto: www.who.int/

Die Wêreldgesondheidsorganisasie beskryf masels as ’n hoogs aansteeklike, ernstige lugoordraagbare siekte wat veroorsaak word deur ’n virus wat tot ernstige komplikasies en die dood kan lei. Dit versprei maklik wanneer ’n besmette persoon asemhaal, hoes of nies.

Dit besmet die lugweë, en versprei dan deur die liggaam.

Simptome van masels begin gewoonlik tien tot 14 dae ná blootstelling aan die virus. ’n Duidelike uitslag is die sigbaarste simptoom. Vroeë simptome duur gewoonlik vier tot sewe dae.

Masels is ’n hoogs aansteeklike virusinfeksie wat ernstige komplikasies kan veroorsaak. Foto: iStock

Dit sluit in: 

  • loopneus;
  • hoes;
  • rooi en waterige oë;
  • klein wit kolletjies binne die wange;

Komplikasies kan insluit:

  • blindheid;
  • enkefalitis (’n infeksie wat breinswelling en moontlik breinskade veroorsaak);
  • erge diarree en verwante dehidrasie;
  • oorinfeksies;
  • ernstige asemhalingsprobleme insluitend longontsteking.

Volwassenes moet ’n Priorix-inenting teen masels, pampoentjies en rubella kry.

‘Noodsaaklike inentings vir volwassenes is baie belangrik’

“Masels is ’n hoogs aansteeklike virusinfeksie wat ernstige komplikasies kan veroorsaak, insluitend long- en oogprobleme,” sê die Bloemfonteinse dokter Chantelle van der Bijl intussen.

“Pampoentjies is ’n virusinfeksie wat die speekselkliere aantas, wat moontlik manlike onvrugbaarheid kan veroorsaak, en rubella, ook bekend as Duitse masels, kan ernstige geboortedefekte veroorsaak as dit tydens die eerste trimester deur ’n swanger vrou opgedoen word.”

Die departement van onderwys doen ’n beroep op ouers om hul kinders fyn dop te hou en tuis te hou of af te sonder om die verspreiding van masels in die gemeenskap te stuit, sê Van der Merwe.

OFM Nuus/Zenande Mpame cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.