Central SA
Vrystaatse LUR besoek woonstelblok op Sasolburg ná brand─── CHARNÉ VAN DER MERWE 11:20 Mon, 05 Aug 2024

“Twee mense, ’n man en ’n vrou, is Vrydag (2/8) dood, nadat ’n brand in die Boiketlong-woonstelle in Zamdela, Sasolburg, ontstaan het.”
’n Vrystaatse LUR sal na verwagting Maandag (5/8) die woonstelblok besoek waar twee mense die naweek doodgebrand het.
Saki Mokoena, LUR vir samewerkende regering, tradisionele sake en menslike nedersettings, sê hy sal die gebied besoek om eerstehandse inligting te kry oor wat presies gebeur het.
Twee mense, ’n man en ’n vrou, is Vrydag (2/8) dood, nadat ’n brand in die Boiketlong-woonstelle in Zamdela, Sasolburg, ontstaan het.
‘Die woonstel is nie vir woondoeleindes gebruik nie’
“Zamdela se polisie het ’n geregtelike doodsondersoek geopen ná die dood van die slagoffers,” het ao. Josephine Rani, polisiewoordvoerder, gesê. “Die woonstel is nie vir woondoeleindes gebruik nie, behalwe mense wat onwettig daar sou kuier sonder die eienaar se toestemming.”
Volgens Rani was die polisie op patrollie toe hulle omstreeks 22:00 rook uit die woonstelle sien trek. Met hul aankoms op die toneel het hulle opgemerk dat die tweede verdieping van blok D aan die brand was.
“Die twee slagoffers is op die toneel dood verklaar. Nadere besonderhede en die ouderdom van die slagoffers sal bekend gemaak word sodra hulle uitgeken is,” sê Rani.
‘Die distrik se rampbestuurseenheid het die gebied deeglik deursoek’
Mokoena doen ’n beroep op spoedige ingryping van alle relevante belanghebbendes om te reageer op die onmiddellike behoeftes van diegene wat deur die brand geraak word.
“Die plaaslike munisipaliteit, Metsimaholo, en verskeie NRO’s was reeds by die woonstelblok sedert die voorval en het gehelp waar nodig,” sê Zimasa Mbewu, munisipale woordvoerder.
Volgens Mbewu is die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling ook genader om psigososiale ondersteuning te bied. Sy voeg by dat die distrik se rampbestuurseenheid, sowel as die polisie die gebied deeglik deursoek het vir enige ander moontlike gevare.
’n Man en ’n vrou, is Vrydag dood, nadat ’n brand in die Boiketlong-woonstelle in Sasolburg ontstaan het. Foto: X
Jack Malindi, Metsimaholo-burgemeester, het die dapperheid en vinnige reaksie van die polisiebeamptes en die nooddienspersoneel geloof wat onvermoeid gewerk het om die brand te beheer en behoeftiges by te staan.
Mokoena en Malindi het hul innige meegevoel betuig met die families van die slagoffers wat oorlede is, en diegene in die hospitaal ’n spoedige herstel toegewens.
Die oorsaak van die brand is onbekend en die ondersoek duur steeds voort.