Click on the warning image to view this post
Central SA
VIDEO: Verdagte steeds soek nadat man sterf ná tref-en-trap─── CHARNÉ VAN DER MERWE 12:04 Tue, 23 Jul 2024
“Dit is hartseer om te sien hoeveel ander motors by hom verby is voordat iemand uiteindelik stilgehou en nooddienste gekontak het."
Die polisie in die Vaaldriehoek soek steeds na ’n verdagte nadat ’n man van Vanderbijlpark ná ’n tref-en-trapongeluk gesterf het toe hy glo van die werk af huis toe gestap het.
Donovin Rieger is Woensdag (17/7) omstreeks 18:35 deur ’n voertuig by die kruising van Barrageweg en Louis Trichardtboulevard getref.
Die kameras wat by die kruising geïnstalleer is, het die voorval vasgevang.
Die video is nié vir sensitiewe kykers nie:
Volgens Johnny de Sousa, ’n familielid, het Rieger ’n dag ná die ongeluk in die Sebokeng-hospitaal aan sy beserings beswyk. Hulle wag egter steeds op amptelike bevestiging van die oorsaak van sy dood.
De Sousa het Dinsdag (23/7) die polisiekantoor besoek om ’n klagte in te dien. “Die polisie het sedert die dag van die ongeluk niks gedoen nie, en tot vandag toe was daar geen verwikkelinge of ’n nadoodse ondersoek nie,” sê hy. “Dit is reeds amper ’n week later.”
Die familie het beplan om Vrydag ’n gedenkdiens vir Rieger te hou, maar dit moes uitgestel word.
In die video kan duidelik gesien word hoe Rieger wag dat die verkeerslig groen word voordat hy begin om die pad oor te steek. Sekondes later jaag ’n motor oor die kruising en tref Rieger in volle vaart. Beeldmateriaal wys hoe die bestuurder wegjaag en Rieger vir dood agterlaat.
‘Die bestuurder van die blou voertuig moet hom of haar aan die polisie oorgee’
“Dit is hartseer om te sien hoeveel ander motors by hom verby is voordat iemand uiteindelik stilgehou en nooddienste gekontak het,” sê De Sousa.
Die nommerplaat van die voertuig kan nie in die video gesien word nie, maar ’n spieël van die voertuig is naby die toneel gevind.
“Die spieël is dié van ’n blou Volkswagen Polo of Golf,” sê De Sousa. Hy pleit by enigiemand wat die ongeluk sien gebeur het, om na vore te kom of dat die bestuurder van die blou voertuig hom of haar aan die polisie oorgee.
Die saak word steeds ondersoek, sê Noxolo Kwena, Gautengse polisiewoordvoerder. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.