On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Anny
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Man dood ná leeuwyfie hom op Vrystaatse reservaat aanval

───   KEKELETSO MOSEBETSI 14:45 Mon, 24 Jun 2024

Man dood ná leeuwyfie hom op Vrystaatse reservaat aanval | News Article
Leeus by Bagamoya. Foto: Facebook/Bagamoya Wildlife Estate

“Een van die vier leeus het die slagoffer aangeval, wat talle bytmerke aan sy nek en lyf opgedoen het.”

’n Werker (43) op ’n wildreservaat by Bloemfontein is dood nadat ’n leeuwyfie hom aangeval en sy nek gebreek het.

“Die voorval het Sondag (23/6) op ’n wildplaas in Glen plaasgevind. Mataka Jere was na bewering tydens die voorval besig met herstelwerk aan ’n heining op die Bagamoya Wildlife Estate en het ook ’n hek in ’n leeukamp aangebring,” sê Loraine Earle, Vrystaatse polisiewoordvoerder.

Omstreeks 12:20 nadat die slagoffer en sy toesighouer klaar was met die hek, het die slagoffer na sy kamer gegaan, maar dit weer verlaat en reguit na die leeukamp gegaan en die omheining binnegegaan.

Ten spyte van die toesighouer se benoude geskreeu om Jere te waarsku teen ’n leeuwyfie in die kamp, was dit te laat. Een van die vier leeus het die man aangeval wat verskeie bytmerke aan sy nek en lyf opgedoen het.

Sharine Barnard, mede-eienaar van Bagamoya. Foto: Facebook

Die toesighouer het daarin geslaag om Jere te red en die leeuwyfie is verdoof en toe deur die DBV van kant gemaak.

Earle sê die Glen-polisie is na die toneel ontbied en ’n saak is geopen vir verdere ondersoek.

Netwerk24 berig Jere se vrou, Veronica, wat ook op die reservaat werk, is verpletter deur haar man se dood. Botha Barnard, Bagamoya se eienaar, sê Veronica is “absoluut stukkend”.

Botha beskryf Jere, wat twaalf jaar by hulle gewerk het, as “ ’n harde werker en ’n vriendelike mens”. Niemand kon verstaan waarom Jere Sondag opsluit na die leeukamp wou gaan nie.

Tien jaar gelede was Bagamoya Wildlife Estate ook in die nuus, toe ’n gas aangeval is terwyl hy leeus vla gevoer het. Botha Barnard, eienaar van die privaat wildreservaat, het destyds gesê niks sou met die leeu gebeur nie en dat die vlavoerdery met ander groepe leeus sou voortgaan.

Begbie Hunter, ’n dokter van Jacobsdal, is in die hospitaal opgeneem en moes geopereer word vir byte en skrape aan verskeie dele van sy liggaam. Hunter was nie van plan om verdere stappe teen die landgoed te doen nie, maar het gesê hy glo dit was ’n wekroep vir alle betrokkenes.

Die diep byte was gevaarlik naby sy ruggraat en nekslagaar nadat die reservaat eers beweer het hy is net gekrap. Die wildreservaat het destyds die aanval ontken

OFM Nuus/Kekeletso Mosebetsi cg/dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.