Central SA
’Koerante is baie belangrik in 'n gemeenskap'─── CHARNÉ VAN DER MERWE 13:22 Fri, 21 Jun 2024

“Saam met die nuus bied die gedrukte koerant die leser ook die waarborg van geloofwaardigheid.”
’n Koerant is ’n belangrike meningsvormer en ’n rolspeler in sy gemeenskap.
“Hy is ’n kultuurskepper en bastion vir die taal,” sê Hennie van Deventer, oudredakteur van Volksblad. Blaai ’n mens deur ’n koerant se argief, sal jy sien watter bron van geskiedenis dit is: politiek, kultuur, sport, elke denkbare onderwerp. Lesers ignoreer hom deesdae, maar sy omvattende rol om ’n vol en vervullende lewe te help skep, sal eers tref wanneer hy weg is.
‘ ’n Koerant is egter veel meer as ’n nuusdraer’
“Hulle kan natuurlik nie met onmiddellikheid meeding nie. Iets het nog amper nie gebeur nie, dan is dit reeds op die een of ander digitale platform,” vertel Van Deventer. “Die koerant is egter veel meer as ’n nuusdraer. Wie hom so sien, sien ’n verwronge beeld.
Schalk Pienaar was vanaf 16 September 1974 Beeld se eerste redakteur.
“Saam met die nuus bied die gedrukte koerant die leser ook die waarborg van geloofwaardigheid. Sy nuus is ware nuus – nie net uit die duim gesuig nie.”
Ven Deventer glo koerante het steeds ’n rol om te speel as “uitgesoekte pakkette”. “Die belangrikste nuus word uit ’n see van stories gesif. Dit bied die leser die noodsaaklike agtergrond vir ingeligte keuses.”
Media24 het onlangs bekendgemaak hy oorweeg om Beeld, Rapport, Daily News en City Press se gedrukte sowel as PDF-weergawe op 30 September te staak en ook op te hou om e-uitgawes van Volksblad en Die Burger Oos-Kaap op te maak.
Media24 het in 2015 sy hoofkantoor opgeknap ter viering van die maatskappy se 100ste bestaansjaar. Toe was daar nog rede om fees te vier. Foto: Morné van Rooyen
Van Deventer wil nie ’n mening waag oor waarom Netwerk24, met byna 100 000 intekenare, nie kan bekostig om voort te gaan om Volksblad, Beeld en Rapport in e-formaat te publiseer nie omdat hy al amper 30 jaar afgetree is en nie toegang tot balansstate het nie.
“Ek sou dink die antwoord moet deels in bestuursfilosofie gesoek word; ’n onderskatting van die waarde van verpakking onder ’n betroubare handelsnaam en die dryfkrag om koste te besnoei – tot op die been. Dit wil die afskaffing van poste teweegbring wat na die oordeel van die bestuur nie noodsaaklik is vir die uitvoering van sy taak soos hy dit sien nie.”
‘Hy kan hersirkuleer word, veral in armer gemeenskappe’
Van Deventer sê die verlies van handelsname soos Beeld en Volksblad kan nie in geldwaarde bereken word nie. “Dit is vir my amper ondenkbaar dat ’n maatskappy kans sien om net ’n streep daardeur te trek. Rapport gaan wel onder sy eie gewel in e-formaat voortbestaan, soos ek die aankondiging lees.”
Gevra wat die voordele van gedrukte media is, beklemtoon Van Deventer die tweedehandse waarde van die gedrukte produk. “Hy kan hersirkuleer word, veral in armer gemeenskappe. Hy word herverdeel van primêre leser na sekondêre leser na veelvuldige lesers. Dit is hoe hy ’n rol in die klaskamer speel. Só verryk hy die lewens van oumense in huise.
In ’n stadium het Suid-Afrika agt Afrikaanse dagblaaie gehad. Eindelik sal dalk net Die Burger oorbly.
“’n Tweede faktor is die gerief van herverwysing. Jy lees die koerant en papier sak eenvoudig dieper in as die vlugtige inname op ’n skerm. Stel jou ’n matriekeksamen voor waarvoor die matrikulant net met flink vingers moet voorberei.”
Van Deventer onthou toe hy in 1997 afgetree het, was koerante op die kruin van die golf. “Die koerantsektor was die beste presteerder in die maatskappy. Ons was die trotse wenners van die DP de Villiers-trofee. Ons was wenners.
“In sekere kringe (was daar) die voorwaarskuwings van ’n toekoms waarin die nuwe internet ook ’n veel groter rol in die koerantbedryf sou speel, maar ek het geglo dit sou ’n rol wees naas koerante en ter ondersteuning van koerante.”
Ná ’n hewige persstryd in die sestigerjare het Rapport en Dagbreek einde 1970 saamgesmelt as Rapport, wat in ’n stadium meer as 500 000 eksemplare op ’n Sondag verkoop het. Rapport kom nou tot ’n einde ná 54 jaar.
Van Deventer sê by sy afskeid in Februarie 1998 het hy onder meer verklaar dat die koerant soos moedersmelk is. “Daar is geen substituut nie. Maar toe al het profete te voorskyn begin kom wat die dood van koerante as onvermydelike gevolg van die tegnologiese revolusie begin sien het.
“’n Dekade gelede het die stemme sterker en sterker geword. Tydsraamwerke is begin uitstippel: drie, vyf, sewe, tien jaar. Ek het eerlik nie gedink die rampspoed sou my in my leeftyd tref nie. Wel, ek was verkeerd.”
‘Minstens 400 werknemers kan hul werk verloor’
Minstens 400 werknemers kan hul werk verloor as Media24 sy plan deurvoer, en behalwe dat vryskutgeleenthede ook drasties verminder word, sal die mense wat geraak word opnuut werk moet soek of iets nuut begin, sê Van Deventer.
“Ek sien egter rondom my baie mense wat kreatief suksesvolle nuwe loopbane aangepak het. Dit is waarskynlik nie veel van ’n aanmoediging nie, maar ek wil graag adviseer dat die slag van werkverlies ook gesien word as ’n uitdaging vir joernaliste. Hulle en ander mediamense is vol idees, planne en kreatiwiteit.”
OFM Nuus dg