On Now
Weekdays 23:00 - 23:59
Overnight Oscar
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

Central SA

Man van Bloemfontein aangekeer ná sy honde vrou verskeur

───   HEIDRÈ MALGAS 14:48 Wed, 19 Jun 2024

Man van Bloemfontein aangekeer ná sy honde vrou verskeur | News Article
Foto: Allfordogs.org

“Die beserings was veral aan die onderste dele van haar liggaam.”

’n Man verskyn Donderdag (20/6) in die Bloemfonteinse landdroshof nadat hy in hegtenis geneem is omdat sy vriendin deur sy Amerikaanse veghonde in Namibia Square verskeur is.

“Die 42-jarige man was in ’n verhouding met die vrou (28) wat deur sy honde doodgebyt is,” sê Thabo Covane, Vrystaatse polisiewoordvoerder. Hy is Dinsdag (18/6) omstreeks 21:00 kragtens die Wysigingswet op Diereaangeleenthede in hegtenis geneem. Die voorval het Maandagmiddag gebeur en ’n saak van strafbare manslag is by die Mangaung-polisiekantoor aanhangig gemaak.

“Beamptes het na die toneel gehaas en die vrou op die grond aangetref met ernstige bytmerke. Die beserings was veral aan die onderste dele van haar liggaam,” sê Covane.

‘Die vrou is op die toneel dood verklaar’

Beamptes op die toneel moes drie van die honde van kant maak, terwyl die ander hond en haar kleintjies deur die plaaslike DBV na veiligheid geneem is. Die vrou is deur paramedici op die toneel dood verklaar.

In 2022, in ’n afsonderlike voorval, is Keketso Saule (3) deur twee pitbulls verskeur in Sekoti Mpate, Phomolong, Hennenman. Dit volg op die dood van ’n ander Vrystaatse kind, Olebogeng Mosime (8) van Bloemfontein, wat deur ’n buurman se Amerikaanse veghond by sy huis in Vista Park doodgebyt is.

‘Pitbulls behoort verbied te word’

Tydens die begrafnis van Olebogeng het Mapaseka Nkoane-Mothibi, adjunkburgemeester van Mangaung, skerp te velde getrek teen onverantwoordelike honde-eienaars en gesê pitbulls behoort verbied te word.

Sy het ook aangekondig dat streng maatreëls vir troeteldiereienaars in die Mangaung-metro voorgestel word, aangesien die metro sekere munisipale verordeninge vir honde-eienaars beoog om in te stel. Nkoane-Mothibi het gesê vanaf Januarie 2023 sou die metro vereis dat honde-eienaars ’n lisensie moet hê en ook ’n vorm van opleiding moet ondergaan om enige tipe hond te besit.

Meer as 40 Amerikaanse veghonde is sedertdien na die DBV in Bloemfontein geneem. Dit volg nadat Olebogeng se dood ’n nasionale debat ontketen het.

Wernich Botha, senior inspekteur by die Bloemfonteinse DBV, het gesê daar was sprake dat almal 'n lisensie vir 'n hond moet hê en dat dit in die munisipale bywette is maar nooit toegepas is nie. Hy sê daar is baie min mense wat lisensies vir honde het. 

OFM Nuus/ Heidrè Malgas dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.