Central SA
#OFMElectionWatch: Partye stamp koppe met OVK in Noordwes – VIDEO─── DANE BEISHEIM 08:42 Thu, 30 May 2024
“Die algemene gevoel wat ons van die grond af kry, is dat die OVK se beamptes meer opleiding nodig het.”
Hoewel lang rye by stemlokale vir kiesers in Noordwes ongerieflik en frustrerend was, is dit tog bemoedigend want dit beteken mense wil stem.
Michal Groenewald, VF Plus-leier in Noordwes, voeg by luidens berigte Woensdag (29/5) het niemand in sommige gebiede van Bloemhof gestem nie. “Hoewel dit goed vir die opposisie kan wees in terme van persentasiegemiddelde wat groei, is dit sleg vir ons land se demokrasie.”
Groenewald is ontevrede met die verkiesingskommissie. “Ons het verskeie kere koppe gestamp met die OVK. Daar is ’n aantal van die voorsittende beamptes wat ons dink aansienlik baie opleiding nodig het, wat totaal en al die wetgewing verkeerd interpreteer; die stempunte verkeerd bestuur, en dit lei ook tot lang toue.”
By die Laerskool Drie Fonteine op Stilfontein het kiesers volgens Groenewald tot vier uur tougestaan om hul kruisies te trek. “Dit kan nie die ry se skuld wees nie. Daar is net een skuldige party, en dit is die OVK.”
Hy sê die VF Plus sal beslis ná die verkiesing met die OVK in gesprek tree om hierdie griewe te lug.
Leon Basson, DA-leier in Noordwes, is dit eens dat dringende ingryping nodig is by die OVK. “Hul masjiene was nie voldoende gewees nie; het nie gewerk nie; en hulle moes oorgaan na gedrukte kieserslyste toe. Die algemene gevoel wat ons van die grond af kry, is dat die OVK-beamptes meer opleiding nodig het.”